Die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) is tans een van die grootste mislukkings wat dienslewering en munisipale bestuur betref. Die munisipaliteit kom nie sy wetlike verpligtinge na nie, inwoners ly as gevolg van swak dienslewering en daar is nie politieke en administratiewe leierskap nie.
Die burgemeester is reeds sedert April 2020 geskors en die pos vir munisipale bestuurder is sedert Januarie vakant.
Die munisipaliteit tree onwettig op deur nie ‘n permanente aanstelling te maak sedert die afsterwe van die voormalige munisipale bestuurder, Thabiso Tsoaeli, nie.
Sedertdien is Zingisa Tindleni as waarnemende munisipale bestuurder effektiewelik vir langer as ses maande aangestel. Dit is teenstrydig met artikel 54A (2A) (a) van die Munisipale Stelselswet wat bepaal dat ‘n persoon nie langer as ‘n periode van drie maande hierdie posisie mag beklee nie.
Intussen heers onstabiliteit in die munisipaliteit en word inwoners deur ‘n ernstige diensleweringsvakuum geteister. Water- en rioolinfrastruktuur word nie onderhou nie en veroorsaak dat rioolvuil op die oomblik vanaf die rioolaanleg in Virginia na die nabygeleë Sandrivier vloei.
Die provinsiale regering het ‘n grondwetlike plig om te verseker dat munisipaliteite funksioneer en moet ook ingevolge die Munisipale Stelselswet ondersoek instel wanneer ‘n munisipaliteit nie sy wetlike verpligtinge nakom nie.
Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die Vrystaatse LUR van samewerkende regering, Thembeni Nxangisa, geëis dat sy departement dringend in dié munisipaliteit ingryp om dienslewering te verbeter en ook toe te sien dat ‘n munisipale bestuurder aangestel word.
Matjhabeng verdien ‘n munisipaliteit wat sy wetlike verpligtinge nakom en kwaliteit dienslewering aan inwoners bied.
Navrae: 076 629 6219