Onverwerkte riool wat gereeld in die strate van Welverdiend, Carletonville, vloei en uiteindelik in die Potchefstroomdam beland, hou nie net ‘n gesondheidsgevaar vir mens en dier nie in nie, maar ook ‘n groot omgewingsgevaar.
Die VF Plus meld gereeld verstopte rioolpype by die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) aan wat indien nie dadelik herstel word nie, riool by mangate laat uitstroom en in erwe en strate laat beland.
Boere in die omgewing wat van rivier- en boorgatwater afhanklik is, kan nie die besoedelde water gebruik nie en is genoodsaak om vars water op grootmaat aan te koop en na hul plase te vervoer.
Die VF Plus hanteer ook dikwels klagtes van inwoners oor vars water wat in die strate afvloei sonder dat die munisipaliteit ‘n poging aanwend om die probleem op te los.
Water in Suid-Afrika is ‘n skaars kommoditeit en moet daarom met omsigtigheid gebruik word.
Deur vars water verlore te laat gaan deur gebarste pype en waterlekke, is niks anders nie as agterlosigheid aan die kant van die munisipaliteit.
Die Merafong-munisipaliteit is egter in so ‘n benarde finansiële posisie dat bestaande infrastruktuur nie behoorlik in stand gehou of vervang kan word nie.
Die VF Plus sal aanhou om elektrisiteits- en waterprobleme by die munisipaliteit aan te meld en druk op amptenare te plaas om op te tree in die beste belang van Merafong se inwoners.
Navrae: 082 671 2302