Die ontwrigting van Tshwane-metroraad se raadsvergadering Donderdag en Vrydag deur die ANC en EFF is growwe ondermyning van demokrasie en tiperend van sinkende politieke partye wat oor geen politieke kapitaal meer beskik nie.
Die ANC en EFF het onlangs ook ‘n vergadering van die Johannesburgse metroraad op soortgelyke wyse ontwrig en in beide vergaderings is raadslede aangerand en beseer.
Die VF Plus gaan die Gautengse premier, David Makhura, asook die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, onder druk plaas om die ANC se lede tot orde te roep.
In 2020 het die hooggeregshof in Pretoria die onwettige besluit van Maile om die Tshwane-metro onder administrasie te plaas, ter syde gestel.
Die ANC poog met die ontwrigting om die raad te verhinder om voorsitters van komitees binne die vereiste 90 dae nadat die uitslag van die 2021-verkiesing geproklameer is te verkies om sodoende die raad weer onder administrasie te laat plaas.
Die speaker in die Tshwane-metroraad sal dringend moet optree teen lede wat raadsittings ontwrig om die prosesse betyds af te handel.
Die ANC het reeds as regeerder gefaal en moet in 2024 deur veelparty-koalisies ook op provinsiale- en nasionale vlak uit die kussings gelig word.