Die onlangse brand en gepaardgaande verwoesting van die Garies Hoërskool, 'n historiese baken in die gemeenskap, het weereens die lig gewerp op die Kamiesberg-plaaslike owerheid se onvermoë om sy verpligtinge teenoor belastingbetalers en die breër gemeenskap na te kom.
Intussen het dit aan die lig gekom dat die vuur noodgedwonge gelaat is om uit te brand, omdat brandbestrydingsvoertuie buite werking is.
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die oorsaak van die brand brandstigting is, aangesien die skool op drie plekke gelyktydig begin brand het.
Dit veroorsaak ontevredenheid in die gemeenskap, waar min nuwe geboue opgerig word en die sierlike argitektuur uit 'n vorige era gekoester word.
Intussen het die burgemeester, me. Susarah Nero, die afwesigheid van optrede en gepaardgaande skade aan die gebrek aan fondse toegeskryf.
Dit laat vrae oor finansiële bestuur ontstaan as brandbestryding nie voldoende voorkeur geniet nie.
In hierdie geval besit die munisipaliteit twee brandbestrydingsvoertuie: 'n Sleepwa met drukpomp en watertenk wat onder 'n peperboom staan waarvan die diensbaarheid jare gelede laas getoets is en die wiele na ander voertuie "herontplooi" is; en 'n regte rooi brandweerwa wat in 'n munisipale werf op stene staan.
Beide hierdie voertuie is tevore aan die munisipaliteit geskenk.
Hardnekkige gerugte lui dat toerusting wat noodsaaklik is vir 'n brandweerwa se diensbaarheid, privaat by 'n skrootwerf verkoop is.
Die VF Plus dring daarop aan dat hierdie bewerings ondersoek word en dat dissiplinêre optrede volg, sou die bewerings waar wees.
'n Ou grappie in Namakwaland lui dat enigeen wat daar brand wil stig, sy eie hout moet saambring.
Tuinvullis word egter toenemend onbeheersd gestort, wat ‘n brandgevaar regoor die dorp skep. Dit vergroot die gevaar wat nie-werkende brandbestrydingsvoertuie skep.
Brande soos dié wat die Hoërskool Garies in puin gelê het, kan weer verwag word.
Dit moet egter nie as 'n natuurramp, of selfs die tragiese gevolg van geldtekorte gereken word nie, maar as die bykans kriminele gevolg van wanbestuur op plaaslike regeringsvlak.
Intussen ondersteun die VF Plus 'n plaaslike aksie wat daarop gemik is om die burgerlike gemeenskap vir brandbestryding en -voorkoming te mobiliseer.
So lank as wat die ANC regeer, moet gemeenskappe self vir dié soort funksies verantwoordelikheid neem.