Onreëlmatige uitgawes wat in die departement van gesondheid gegroei het met R37 miljoen sedert 2018/19 tot R69 miljoen in 2019/20, is besig om verwoesting te saai in die departement. Tesame met die minister van finansies se besnoeiings in die departement, lyk die prentjie vorentoe maar donker.
Nie net alleen kan die uitvloeisel hiervan gesien word in die Oos-Kaap waar daar tans gesukkel word om die groot aantal Covid-19-pasiënte te help weens ‘n tekort aan beddens, medisyne, suurstof, dokters en verpleegsters nie, maar ook in die aanstelling van mediese interns.
Dit het gister aan die lig gekom dat talle finale jaar-mediese studente nie as interns by hospitale landwyd geplaas sal kan word nie weens ‘n tekort aan geld by nasionale tesourie en die departement van gesondheid. Van die studente is eers ‘n paar dae voor hul finale eksamen hiervan in kennis gestel.
Die departement se optrede kan nie geregverdig word nie en hierdie optrede gaan ‘n reuse impak hê op die reeds verlamde openbare gesondheidstelsel. Dit sal daartoe bydra dat daar nie gou meer gesondheidswerkers aangestel sal kan word om die huidige tekort uit te wis nie.
Dit is kommerwekkend aangesien ‘n persoon eers as mediese dokter geregistreer kan word na voltooiing van twee jaar internskap en een jaar gemeenskapsdiens in ‘n staatshospitaal. Dit sal eindelik lei tot ‘n onbekostigbare toekomstige tekort aan gesondheidswerkers. Daarom maak dit nou sin dat veldhospitale nie in gebruik is nie en Covid-19-sale wat ingerig is, nie beman kan word nie.
Hierdie verwikkeling is ontwrigtend vir interns aangesien onder meer reëlings rondom verblyf getref moet word. Die VF Plus wou reeds in 2019 by die gesondheidsminister, Zweli Mkhize, weet waarom daar ‘n tekort aan dokters en verpleegsters in Suid-Afrika in staatshospitale is. Sy antwoord was dat openbare gesondheid se begroting in tien jaar nie vergroot is nie terwyl die aanvraag vir gesondheidsdienste vergroot het en daar nie bykomende geld is om die probleem op te los nie.
Met dit in ag genome, het die minister nog geen daadwerklike plan op die tafel geplaas om wanadministrasie en korrupsie in sy departement uit te wis nie en het die minister se stadige optrede die gevolg dat die land se gesondheidsdienste ernstig benadeel word.