(Debat in parlement oor Munisipale Stelsel-Wysigingswetsontwerp)
Aanpassings aan die Munisipale Stelsel-Wysigingswetsontwerp is lank uitstaande en is nodig om gebreke in die wet te behandel soos om amptenare te verbied om enige politieke amp in ‘n politieke party te beklee.
Die Grondwethof het in 2017 reeds bevind die wetsontwerp is ongrondwetlik en ongeldig en het die parlement twee jaar gegun om dit reg te stel. Hierdie spertyd het reeds op 9 Maart 2019 verstryk.
Tog sal geen wet of wysiging eindelik help om die verval in munisipaliteite te keer nie.
Plaaslike regering het nou reeds totaal in duie gestort. Dit het gebeur weens vervalle infrastruktuur, uitstaande skuld aan Eskom en waterrade, buitensporige salarisse, min of geen dienslewering, die besoedeling van waterbronne, finansiële wanbestuur, korrupsie en onbevoegdheid om enkele voorbeelde te noem.
‘n Welkome wysiging is die verbod op amptenare op alle vlakke om enige amp in ‘n politieke party te beklee. Dit sal help om kaderontplooiing stop te sit wat grootliks vir die mislukking van plaaslike regering verantwoordelik is.
Persone word aangestel in poste op grond van politieke bande en affiliasies en nie op grond van vaardigheid, kennis en bewese ondervinding en kundigheid nie.
Hierdie wysigings aan die wet moet nou nagekom word. Indien daar nie gevolge vir die oortreding van wetgewing en regulasies is nie, sal geen wetgewing enige probleem oplos nie.
‘n Groot leemte in die wet wat steeds bestaan, is dié van herontplooiing om onbevoegde of korrupte munisipale amptenare bloot elders in diens te neem.
Wetgewing hieroor is nodig aangesien die ANC se baantjies vir boeties sterker is as enige logika en belangriker is as die belange van die mense van Suid-Afrika.
‘n Voorbeeld is Manguang wat tans weer in ‘n stryd gewikkel is met ‘n waterraad, Bloemwater, terwyl mense wat gereeld hul belasting en dienstegelde betaal, daaronder moet ly.
Net so onaanvaarbaar is dat dienstegelde en belastings jaar na jaar verhoog word terwyl dienste agteruit gaan.
‘n Totaal nuwe model vir plaaslike regering is nodig. Een met kleiner munisipaliteite waar die politieke wil sal bestaan om dienste te lewer en aan inwoners waarde vir hul geld te gee.
Mense wat nie kry waarvoor hul betaal nie, sal eindelik nie meer bereid wees om te betaal nie.