fbpx
Vryheidsfront Plus

Amptenare in openbare werke mag nie wegkom met Beitbrug-korrupsie: De Lille moet “gemors” opruim

Die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, moet nou inspring om die “gemors” in haar departement op te ruim.

Sy mag nie toelaat dat amptenare wat betrokke was by die Beitbrug-korrupsieskandaal, wegkom met net ‘n finale waarskuwing en sogenaamde opleiding soos aanbeveel deur die waarnemende direkteur-generaal van die departement, Imtiaz Fazel, nie.

Dissiplinêre klagtes is destyds aanbeveel teen dertien senior amptenare in die departement weens beweerde wangedrag wat hoofsaaklik tydens die verkrygingsproses plaasgevind het. ‘n Bedrag van sowat R40 miljoen van die belastingbetaler se geld het in hierdie proses verlore gegaan.

Die projek sou aanvanklik R26 miljoen kos maar het eindelik R14 miljoen meer beloop.

Die VF Plus voel sterk dat De Lille hiervoor aanspreeklik gehou moet word aangesien sy toegelaat het dat hierdie projek voortgaan sonder dat die nodige verkrygingsprosedures gevolg is. Sy het ook die opdrag vir die projek gegee voordat die Rampbestuurswet in werking getree het en Artikel 27(2)(L) van dié wet is erg uitgebuit.

Indien amptenare gaan wegkom met ‘n blote raps oor die vingers, stuur die regering ‘n boodskap na buite dat korrupsie en wanadministrasie aanvaarbaar is en dat sulke gedrag die aanvaarbare norm in die samelewing is.

Dit sal veroorsaak dat enigiemand maar kan steel, roof en plunder soos hul wil en niks gaan oorkom nie aangesien die regering die voorbeeld stel dat sulke gedrag aanvaarbaar is.

De Lille moet saam met die amptenare aangekla word en die reg moet sy gang gaan om hierdie onhoudbare situasie van korrupsie in hierdie departement eens en vir altyd uit te roei.

De Lille moet nie net sê dat haar departement in ‘n gemors is nie, sy moet dit skoonmaak ook.

Die VF Plus is bekommerd oor verdere korrupsie wat sy kop in hierdie departement uitgesteek het waar ‘n muur van 200m in die Kosibaai-grensprojek gebou is vir R48 miljoen.

‘n Ondersoek rakende hierdie projek moet dringend gedoen word om oortreders hier ook vas te vat.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.