fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC spog oor mislukte regering

(Parlementsdebat oor die Tweede Aansuiweringsbegroting-Wetsontwerp)

Dit is verstommend dat die regerende ANC-party so in sy skik kan wees met ‘n begrotingsraamwerk wat bewys lewer van ‘n totaal mislukte staat en die ernstige finansiële krisis waarin die land verkeer.

‘n Mens moet jouself afvra of die miljoene Suid-Afrikaners wat werkloos en desperaat is, en wat ly onder mislukte munisipaliteite, die ANC se vreugde oor die situasie in die land deel.

‘n Verantwoordelike regering sou erken het daar is probleme en sou nie voorgegee het alles is wel nie.

Die regering sê herhaaldelik hy sal nie die werkers van Suid-Afrika, en in besonder die werknemers van die SAL in die steek laat nie. Tog is dit die ANC self wat die werkers vir 26 jaar in die steek gelaat het.

Die regering is korrek deur te sê dat gretige persone die SAL gestroop het. Wat egter verswyg word, is dat hierdie gretigheid in die hart van die ANC onstaan het en uitgevoer is deur kaders van die regerende party. Dit is ANC-kaders soos Dudu Myeni wat onder meer verantwoordelik was vir die wanbestuur van die SAL, en die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, wat as premier van die Vrystaat grootskaalse korrupsie toegelaat het.

Ewe tragies is dat die skuld vir die regering se mislukking nou toenemend op die verlede gepak word. Retoriek soos wit bevoorregting dra ná 26 jaar nie meer gewig nie.

Dit is nie die verlede se skuld dat R5 miljard in die aansuiweringsbegroting weggeneem word van polisie terwyl misdaad ‘n krisis in die land is, maar R6,8 miljard word aan openbare ondernemings gegee nie.

R245 miljoen word weggeneem van munisipale infrastruktuur terwyl water besoedel word en in baie gevalle nie meer beskikbaar is nie. R376 miljoen word weggeneem van gesondheid terwyl R555 miljoen aan sport gegee word. Dit is irrasionele, verkeerde prioriteite.

Die feit dat die ANC oor só ‘n verdoemende begroting breëbors loop en pronk, wys hoe totaal rigtingloos sy morele kompas geraak het.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.