Die VF Plus het die burgemeester van Tshwane-metro, dr. Nasiphi Moya, gewaarsku om nie onnodige geld te bestee aan ʼn hersoneringsaansoek wat moontlik kan lei tot onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes nie.
Die party het tydens ʼn raadsvergadering op 29 Oktober die burgemeester versoek om die item vir die hersonering van ʼn eiendom in Winterveld vir die oprigting van ʼn 20-megaliter reservoir te onttrek. Die burgemeester het egter geen gehoor daaraan gegee nie.
Die VF Plus het na deeglike ondersoek vasgestel dat die soneringstatus soos dit tans is voldoen aan die voorwaardes van die stadsbeplanningskema en daar word dus geen belemmering geplaas op die beoogde konstruksie van die waterreservoir nie.
Dit sal strydig wees met die burgemeester se beloftes om dienslewering te bevorder en van onnodige burokratiese prosesse ontslae te raak indien daar met die hersonering voortgegaan word.
Indien die metro eers aansoek doen vir die hersonering van die grond kan die proses tot drie jaar lank sloer. Dit kan ook die belastingbetalers sowat R300 000 uit die sak jaag.
Die VF Plus is verbind tot effektiewe dienslewering en om ekonomiese groei in die metro te bevorder tot voordeel van al sy inwoners.


