fbpx
Vryheidsfront Plus

Skrikbewind van minibus-taxiverenigings in Mpumalanga kan nie langer geduld word

Die skrikbewind wat minibus-taxiverenigings op openbare paaie in Mpumalanga voer om die absolute monopolie oor vervoersdienste, is skokkend en onaanvaarbaar en die VF Plus eis optrede op die hoogste vlak.

Uit videomateriaal in die party se besit, kan duidelik gesien word hoe persone wat klaarblyklik optree as “sekerheidsdienste” of sterkmanne vir die taxi-verenigings, motoriste intimideer en dreig.

Motors word selfs van die pad gedwing waarna betalings of sogenaamde “boetes” geëis word. Die VF Plus het baie klagtes in dié verband ontvang en die TV-kanaal Newzroom Africa het ook reeds breedvoerig daaroor berig.

Tog blyk dit of die owerhede voete sleep met optrede. Tot op hede het die polisie nog niemand in hegtenis geneem nie en die VF Plus het verlede week die provinsie se LUR vir gemeenskapsveiligheid, mnr. Jackie Macie, in die provinsiale wetgewer versoek om op te tree.

Mnr. Macie het erken dat hy bewus is van die “toenemende probleem” en het onderneem om ʼn dringende ondersoek van stapel te stuur.

Hoe arrogant die oortreders is, blyk uit die uitlatings op TV van die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) in Mpumalanga, mnr. Fanyana Sibanyoni, dat die vereniging “die reg het” om enige motoris te stop en te verhinder om saamrygeleenthede te gee indien dit op ʼn taxiroete plaasvind.

Die VF Plus het videomateriaal van ʼn voorval op die N4-hoofweg naby Ogies waar gesien kan word hoe ʼn motoris in ʼn lewensgevaarlike situasie van die pad gedwing word.

ʼn Ander selfoonopname wys hoe dieselfde of ʼn soortgelyke “taxi-patrolliemotor” in nog ʼn voorval probeer om ʼn Chevrolet-motor tot stilstand te dwing.

In ʼn verwante voorval is ʼn persoon wat sy buurman glo ’n saamrygeleentheid gegee het, van sy motor beroof. Die aanvallers het na bewering geëis dat hy ’n “boete” van R2 500 betaal om sy motor terug te kry en hy is gewaarsku om nie weer saamrygeleenthede te gee nie.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het bevestig dat hy wel van sekere voorvalle bewus is en dat ‘n saak van kaping in die laaste voorval ondersoek word. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Dit is vir die VF Plus onaanvaarbaar dat daar nie reeds daadwerklik opgetree is nie. Die polisie het ʼn goeie idee wie die oortreders is, daar is videomateriaal en ooggetuies beskikbaar en Santaco se dreigemente is openlik.

Tog is nog niemand nog aangekeer nie en die LUR beloof eers optrede nadat hy met die feite gekonfronteer word.

Dit is skokkend dat wettelose elemente ʼn skrikbewind op die provinsie se paaie voer terwyl die owerhede dit klaarblyklik swyend gade slaan. Die VF Plus sal die situasie volg om seker te maak daar word opgetree om dié wetteloosheid stop te sit.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.