Die VF Plus steun die Mangaung-metro se nuwe beleid en strategie vir ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes (UIF&W), maar waarsku dat hierdie beleid betekenisloos sal bly sonder werklike aanspreeklikheid en politieke wil om dit toe te pas.
Mangaung se probleem is nie ’n tekort aan beleide nie, maar die ANC-geleide regering se volgehoue versuim om dit te implementeer.
Jaar na jaar neem UIF&W-uitgawes toe, terwyl bykans geen amptenare aanspreeklik gehou word nie. Dit is ’n patroon wat neerkom op toegelate finansiële wanbestuur.
Die ouditeur-generaal (OG) se verslag vir die 2024/25 finansiële jaar toon ongemagtigde uitgawes van R1,36 miljard, onreëlmatige uitgawes van R323,9 miljoen en vrugtelose en verkwistende uitgawes van R67,3 miljoen.
Die OG bevestig verder dat hierdie uitgawes grotendeels nie ondersoek is nie, dat bewerings van wanbestuur nie behoorlik hanteer is nie en dat dissiplinêre of strafregtelike stappe selde gevolg het. Selfs sake wat ’n misdryf uitmaak, is nie konsekwent aan die polisie gerapporteer nie.
Hoewel die doelwit van nul UIF&W-uitgawes teen 2027 indrukwekkend klink, is dit ’n leë belofte indien dieselfde amptenare wat die krisis veroorsaak het dit moet polisieer.
Die middeltermyn–begrotingsassessering vir die huidige jaar toon reeds nuwe ongemagtigde uitgawes: R2,2 miljoen aan oortyd, R29,6 miljoen aan waarnemende toelaes, sowel as beraamde miljoene vir regskoste, sekuriteitsdienste en vullisverwydering.
Die VF Plus eis dat kwartaallikse openbare verslae aan die raad voorgelê word wat duidelik uiteensit watter uitgawes aangegaan is, watter bedrae verminder of verhaal is en watter sake tot strafregtelike stappe gelei het.
Enigiets minder is ’n skending van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) en ’n miskenning van inwoners wat steeds betaal vir dienste wat in duie stort.
Die VF Plus sal enige poging teenstaan om gevolgbestuur te verswak of skuldiges te beskerm.
Mangaung-inwoners het genoeg gehad van praat – nou moet aanspreeklikheid volg.


