Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dirco se uitsetting van Israeliese diplomaat nóg ‘n eensydige, skadelike stap teen Suid-Afrika se belange

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) se besluit om Israel se saakgelastigde (chargé d’affaires) te beveel om die land binne 72 uur te verlaat, is eensydige en skadelike ANC-optrede wat nie in die beste belang van Suid-Afrika is nie.

Die VF Plus staan verstom oor die besluit om mnr. Ariel Seidman van die Israeliese ambassade tot persona non grata te verklaar.

Volgens Dirco is dit gedoen oor ‘n “reeks onaanvaarbare skendings van diplomatieke norme en praktyke wat ‘n direkte uitdaging vir Suid-Afrika se soewereiniteit inhou”.

Dirco beskuldig mnr. Seidman ook van “beledigende sosiale media-aanvalle op pres. Cyril Ramaphosa en ‘n versuim om besoeke deur senior Israeliese amptenare (na Suid-Afrika) aan te meld.

Gegewe die huidige sensitiewe verhoudinge tussen Suid-Afrika en die VSA is die optrede van Dirco teen Israel, die VSA se groot bondgenoot, moedswillig en uitdagend.

Hierdie stap is ‘n voortsetting van totaal eensydige ANC-gemotiveerde optrede sonder om hoegenaamd sy regeervennote in die regering van nasionale eenheid (RNE) in die saak te ken.

Die VF Plus is van mening dat die optrede teen mnr. Seidman waarskynlik ‘n poging tot wraak is oor die vroeëre uitsetting van Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA, mnr. Ebrahim Rasool.

Die beskuldiging rakende senior diplomatiese besoeke het geen substansie nie, aangesien die betrokke individue in hul persoonlike hoedanigheid in Suid-Afrika was.

Om só ‘n stap te neem terwyl finale besluite oor die Agoa-ooreenkoms geneem word, is doodeenvoudig onverstandig. Dit bedreig ekonomiese bande, werkgeleenthede en beleggings op ‘n kritieke tydstip vir die land.

Die ANC het geen eksklusiewe reg in die RNE oor Suid-Afrika se buitelandse beleid nie.

Die VF Plus herhaal sy eis tot dringende konsultasie en ‘n balansering van beleid wat pragmaties, feite-gegrond en in alle Suid-Afrikaners se beste belang is.

Die party sal voortgaan met stappe om met pres. Ramaphosa hieroor gesprek te voer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.