Die uitgerekte en herhalende kragonderbrekings wat duisende inwoners in die noorde van Alberton al vir meer as ‘n week in totale duisternis gedompel het, kan net voor die deur van die onbevoegde ANC/EFF-koalisieregering gelê word.
Hierdie toestand grens aan verwaarlosing van basiese dienslewering en is eenvoudig onaanvaarbaar.
Die verwoestende brand op 20 Januarie 2026 by die Z9 (Padstow)-substasie het nie net groot skade veroorsaak nie, maar ook ’n kettingreaksie van probleme ontketen soos diefstal, vandalisme en gebrekkige transformators wat die krisis verder vererger het.
Inwoners van Alberton-Noord, Florentia en omliggende gebiede was agt dae lank sonder krag. Kragtoevoer is kortstondig herstel is, maar het weer ineengestort.
Selfs ná die sogenaamde “herstelwerk” sit gesinne in Radio- en Jacobsstraat steeds sonder elektrisiteit en sonder enige duidelike verduideliking of tydlyn.
Dit is nie bloot ’n tegniese fout nie. Die totale gebrek aan deursigtige en tydige kommunikasie met raadslede én die publiek is skandalig. Inwoners word letterlik en figuurlik in die donker gehou, terwyl die metro vae beloftes maak en sperdatums voortdurend verskuif.
Ekurhuleni moet onmiddellik en daadwerklik optree om die onaanvaarbare kommunikasie krisis rondom Alberton se kragonderbrekings te beëindig. Inwoners word tans in die duister gelaat sonder enige duidelike inligting oor watter gebiede presies geraak word en wanneer herstelwerk werklik voltooi sal wees.
Die metro het ’n plig om deursigtige en presiese kaarte en lyste van alle geraakte areas te publiseer, saam met betroubare en bindende hersteltye per gebied en geen verskonings of verskuiwende spertye meer nie.
Verder moet veiligheidsbeamptes onmiddellik ontplooi word om vandale te keer wat hierdie krisisse uitbuit, terwyl ’n omvattende stabiliseringsplan vir Alberton se kraginfrastruktuur dringend geïmplementeer word.
Hierdie plan moet prioriteit gee aan die vervanging van verouderde en gevaarlike toerusting by substasies om volhoubare en betroubare dienslewering te verseker. Inwoners verdien deursigtigheid, sekuriteit en ’n betroubare kragnetwerk. .
Inwoners van Ekurhuleni betaal vir dienste en verdien betroubare elektrisiteit en nie herhalende kragonderbrekings, misleidende beloftes en totale stilte van die metro nie.
Die VF Plus sal hierdie saak nie los nie en sal die situasie daagliks monitor totdat konkrete, blywende regstellende stappe geïmplementeer is.


