Die waarskynlike dood van vyf mynwerkers in Kimberley is uiters hartseer en die VF Plus spreek sy meelewing met naasbestaandes uit.
Verder is die gevolglike likwidasie van die eKapa-diamantmyngroep in Kimberley die volgende mylpaal in ‘n proses wat lank reeds aan die gang is: Die afnemende belang van diamantmynbou in die sogenaamde Diamantstad.
Die vraag of Kimberley ‘n nuwe staanplek kan verwerf – die stad as’t ware kan herontwerp – is in die hande van Kimberliete self.
Met ongeveer ‘n duisend werknemers was eKapa net ‘n skaduwee van Die Beers op sy hoogtepunt. Diรฉ diamantreus het bedrywighede in Kimberley geleidelik afgeskaal en in 2016 sy laaste mynboubates in Kimberley verkoop.
Nogtans is dit ‘n groot werkgewer vir Kimberley, ‘n klein plattelandse stad met ongeveer driehonderdduisend inwoners en ‘n hoรซ werkloosheidskoers.
Die sluiting van eKapa volg op ‘n tragiese mynramp op 17 Februarie 2026, toe vyf mynwerkers deur ‘n modderstorting 800 meter onder die grondoppervlak toegeval is. Dit is ‘n menslike tragedie wat inwoners van Kimberley aan die hart gegryp het.
Verder is dit ‘n ekonomiese ramp, aangesien eKapa bereken dat dit tot 18 maande kan neem om die myn weer in werking te stel. Met die huidige lae pryse en mededinging van kunsmatige diamante is dit volgens die myngroep eenvoudig nie lewensvatbaar nie.
Die huidige vraag, waarop slegs rolspelers in en om Kimberley kan antwoord, is of die stad as iets anders as die Diamantstad herbedink kan word.
Landbouverwante bedrywe kan ‘n groter rol speel, met Kimberley as middelpunt van vier groot besproeiingskemas: Die Oranje-, Vaal-, Riet- en Hartsriviere huisves gesamentlik ‘n groot en stabiele landbouproduksie wat insette en verwerking verg.
Kimberley is ook strategies geleรซ op hoofroetes van Noord na Suid, sowel as van die yster- en mangaangebiede in die omgewing van Kathu na uitvoerhawens.
Verder is dit in ‘n streek wat buitengewoon geskik is vir die benutting van sonenergie. Die status as provinsiale hoofstad en tuiste van die Sol Plaatje Universiteit tel ook in Kimberley se guns.
Aan die negatiewe kant is verbrokkelende paaie en die Sol Plaatje-munisipaliteit wat sedert 2018 van een krisis na die volgende voortploeter.
Die geskenk van diamante het Kimberley bykans 160 jaar bevoordeel. Nou is die vraag of die mense van Kimberley, insluitend sakelui, owerhede, belastingbetalers en diegene wat tans nie vir dienste betaal nie, die stad verder gaan laat verval, of ‘n nuwe lewe gaan gee.
Dit is moeilik om die rol van Kimberley in die geskiedenis van Suider-Afrika, sowel as in die wรชreldwye diamantbedryf, te oorskat. Die diamantstormloop, wat aanvanklik wanordelik was en op geluk staatgemaak het, het die politieke – en ekonomiese landskap van die hele subkontinent onherroeplik verander.
Vir die eerste keer was daar in die binneland ‘n markekonomie wat werkers en fortuinsoekers van heinde en verre na hierdie semi-woestynstreek gelok het. Tradisionele samelewings sover as die huidige KwaZulu-Natal, Limpopo en selfs verder is tegelyk ontwrig en versterk.
Die beskikbaarheid van kontantlone het die tradisionele leefwyse en die rol van tradisionele leiers ontwrig. Die stelsel van trekarbeid, waarvoor Suid-Afrikaanse mynbou berug is, het hier ontstaan.
Aan die ander kant kon hierdie selfde gemeenskappe die eerste keer ‘n oorvloed vuurwapens en ammunisie koop om hulself teen kolonisering te verdedig.
Magnate soos Cecil John Rhodes, Barney Barnato en Alfred Beit het hulle fortuine in Kimberley gemaak. Hulle het ook met die vereistes vir diep mynbou vertroud geraak. Daarom kon hulle later die goudvelde van die Witwatersrand, wat selfs ryker, maar ook meer veeleisend was, ontgin.
In Kimberley het myners en geoloรซ saam die geheimenis van die verspreiding van diamante ontrafel: Diรฉ edelgesteentes is in vulkaniese pype onder geweldige hoรซ druk en temperature gevorm. Diamantdraende vulkaniese pype is gevolglik “kimberliet” gedoop – ‘n woord wat steeds daarvoor gebruik word.
Hierdie deurbraak het dit moontlik gemaak om meer akkuraat vir diamante te prospekteer, sowel vir die kimberliet self, as alluviale diamante wat in die oertyd deur riviere verder versprei is.
Hoewel die diamantmyne van Kimberley fabelagtige rykdom opgelewer het, het dit grootliks by mynbou gebly. Waardetoevoeging vind hoofsaaklik in Indiรซ, Belgiรซ en Israel plaas. Die moontlikheid van ‘n diamantnywerheid in Kimberley, wat selfs nรก die uitputting van plaaslike myne ‘n sterk ekonomie kon skep, het nie werklikheid geword nie.
Die rede is waarskynlik dat die De Beers-maatskappy, wat dekades lank die ontginning, verhandeling en verwerking van diamante oorheers het, se vernaamste belange nooit in Kimberley was nie. Kimberley was bloot die afgeleรซ bron van welvaart wat elders belรช is.


