Inwoners van die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley, Modderrivier en Ritchie) is geskok ná ʼn aankondiging dat 5 900 huishoudings na ʼn nuwe kapasiteitsgebaseerde elektrisiteitsmodel oorgeskakel gaan word.
Hierdie model, wat basiese – en kapasiteitstariewe insluit, word ingestel sonder voldoende openbare deelname.
Ten spyte daarvan dat die model reeds vroeër goedgekeur is, is dit nog nooit behoorlik aan wykskomitees of inwoners verduidelik nie. Raadslede is self oningelig en nie toegerus om die navrae wat hulle oorval, te beantwoord nie.
Daar is tans geen duidelikheid oor wanneer die 21 dae kennisgewingstydperk begin of eindig nie, en waarom juis 21 dae gekies is nie.
Verder is dit uiters kommerwekkend dat sowat 16% van huishoudings se kragverbruik nie korrek gefaktureer word nie weens stukkende meters, onreëlmatige verbindings en kragdiefstal.
Intussen word eerlike, betalende verbruikers geteiken vir verdere kostes.
Dit is ook bekend dat die meerderheid huishoudings steeds met 60 Ampère-stroombrekers toegerus is en dat slegs slimmeters verbruik elektronies kan beheer. Die praktiese uitvoering van die verandering, asook wie die koste vir nuwe stroombrekers en arbeid gaan dra, bly onbekend.
Die VF Plus waarsku dat hierdie halsoorkop implementering ’n logistieke nagmerrie kan word, aangesien die munisipaliteit nie die kapasiteit het om hierdie grootskaalse verandering te bestuur nie.
Vorige pogings om elektrisiteitsmodelle te verander het reeds tot ernstige onrus en selfs skade gelei.
Die VF Plus neem ’n ferm standpunt in dat Sol Plaatje eers sy administrasie en infrastruktuur moet regstel voordat verdere druk op getroue betalers geplaas word. Inwoners van Kimberley verdien deursigtigheid, behoorlike raadpleging en billike behandeling.


