Die 2026-begroting van minister Enoch Godongwana bied ‘n mengsel van verligting en optimisme, maar dit bly steeds binne ‘n raamwerk van slegte beleidsrigtings en ontoereikende dienslewering.
Met die remskoene van skadelike beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) in plek, groei die ekonomie te stadig vir waarlik vinnige oplewing met ‘n geskatte 1,6% vir vanjaar teenoor die 1,2% in 2025.
Suid-Afrika se fiskale situasie is wel beter as oor die laaste jare met verhoogde inkomste. Tog is die gekonsolideerde begrotingstekort steeds ‘n probleem.
Die finansiering van historiese staatskuld is hoog en al is daar tans ‘n primêre begrotingsurplus, moet daar steeds geleen word om die tekort wat ontstaan weens skuldfinansieringskoste te diens.
Die situasie op plaaslike regeringsvlak bly ‘n groot probleem. Korrupsie, verkeerde besluite en wanbesteding op hierdie vlak, kan ‘n beduidende rol speel om die moontlikheid van groei teen te werk.
Nogtans is die VF Plus saam met die gewone, hardwerkende belastingbetaler en veral die middelklas-inkomstegroep bly oor die broodnodige belastingverligting wat die minister aangekondig het.
Belastingkerwe vir persoonlike inkomstebelasting is ná twee jaar weer ten volle by inflasie aangepas. Dit beteken R13,7 miljard meer in die sak vir gewone belastingbetalers en sal die ekonomie ‘n hupstoot gee.
Ander belangrike aankondigings sluit in R20 miljard se beplande belastingverhogings wat gekanselleer is – hoofsaaklik danksy beter inkomste uit BTW en maatskappybelasting.
Dit wys dat die minister na maniere gesoek het om gewone belastingbetalers tegemoet te kom. Dit is ‘n goeie teken en moet verwelkom word.
Daar is ‘n stimulus vir kleinsake-ontwikkeling met die BTW-registrasiedrempel wat opskuif van R1 miljoen tot R2,3 miljoen en kapitaalwins-uitsluiting vir sakeverkopers styg tot R2,7 miljoen.
Oorhoofs gesien is Suid-Afrika in ‘n meer stabiele fiskale posisie as oor die laaste jare, veral met die begrotingstekort wat af is tot 4,5% van BBP.
Vanuit die VF Plus se oogpunt is dit ‘n stap vorentoe, maar nie genoeg nie. Ons verwelkom die verligting en groei-fokus, maar die las van maatskaplike hulp en ‘n openbare salarisrekening wat sowat 35% van die staatsinkomste opneem, is onvolhoubaar.
Munisipaliteite val steeds uitmekaar weens onbevoegde kaderaanstellings en reddingspakkette vir staatsentiteite soos Transnet mors miljarde.
Ware verandering en vinniger groei bo 3% sal net plaasvind met groot besnoeiings in vermorsing, meriete-gegronde aanstellings en groter markvryheid.
Daarsonder sal ware groei nie kan plaasvind nie en belastingbetalers sal aanhou om ‘n swaar las dra.
Die VF Plus eis daarom dringende hervormings vir ‘n bekwame, doeltreffende staat. Die enkele positiewe fiskale tekens wys waartoe die land in staat is.


