Die VF Plus in die Stellenbosch-plaaslike munisipaliteit het die afgelope naweek ʼn oorsigbesoek gebring aan die Onder Papegaaiberg-gebied wat die historiese begraafplaas, die aangrensende brug, die spoorlyn en omliggende informele nedersetting insluit.
Die besoek volg op talle klagtes van inwoners oor rommelstorting, onwettige nedersetting en ernstige veiligheids- en omgewingsrisiko’s.
Die VF Plus was ook self op die toneel waar die sinnelose moord op die 77-jarige mnr. Piet de Koker op 17 Januarie vanjaar in die Stellenbosch-hoofbegraafplaas/Onder Papegaaiberg-begraafplaas plaasgevind het.
Die toestand van dié begraafplaas is van besondere belang vir die gemeenskap van Stellenbosch. Dit is ’n historiese rusplek vir generasies inwoners, insluitend prominente Stellenbosch-families, akademici en voormalige burgemeesters.
Begraafplase is plekke van respek en herinnering, en die huidige vervalle toestand is onaanvaarbaar. Die restourasie en instandhouding van hierdie terrein moet dringend geprioritiseer word om te verseker dat dit ’n plek van waardigheid en veiligheid vir gesinne, inwoners en besoekers bly.
Die informele nedersetting onder die brug hou ’n ernstige bedreiging vir openbare veiligheid en infrastruktuur in, en kan nie langer geïgnoreer word nie.
Uitgebreide rommelstorting is ook by die brug en langs die spoorlyn aangetref, met groot hoeveelhede rommel wat in die nabygeleë waterstroom beland en ’n ernstige gesondheids-risiko en oorstromingsgevaar skep.
Verkiesingsveldtogborde, insluitend dié van die VF Plus, word as boumateriaal vir informele strukture gebruik, terwyl druiwe wat waarskynlik van ’n naburige plaas gesteel is, binne die nedersetting gevind is.
Oop vure onder die brug en naby die spoorlyn hou ’n onmiddellike risiko vir kritieke infrastruktuur en spoorwegbedrywighede in.
Die VF Plus het in ʼn skrywe aan die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, daarop aangedring dat die betrokke gebied dringend skoongemaak word, vullis verwyder word, kwesbare infrastruktuur beveilig word en dat beslissend opgetree word teen onwettige plakkers en aktiwiteite.
Die VF Plus betuig sy innige meegevoel aan die familie en geliefdes van mnr. de Koker. Sy tragiese dood moet ’n keerpunt wees. Die herstel van veiligheid, waardigheid en omgewingsintegriteit in Onder Papegaaiberg en die historiese begraafplaas is ’n prioriteit.
Die VF Plus bly verbind tot sigbare, gekoördineerde en volgehoue optrede om inwoners se bekommernisse daadwerklik aan te spreek.


