Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bek- en klouseer: Terwyl minister oor staatsbeheer kibbel, knars plattelandse ekonomieë tot stilstand

Terwyl die minister van landbou, mnr. John Steenhuisen, die staat se alleenreg om entmiddels teen bek-en-klouseer te verkry en te bestuur in die hof verdedig, kring die ekonomiese krisis in plattelandse gemeenskappe al verder uit.

Die meeste plattelandse dorpe word hoofsaaklik deur landbou gedra. Die ekonomie bestaan uit insetverskaffers, ondernemings wat lanbouprodukte ontvang en verwerk, finansiële- en persoonlike dienste, asook handel. Die oorsprong daarvan is egter steeds die landbou.

Die meeste boerderye, groot of klein, is gemeng. Dit wil sê gewasse word verbou, terwyl vee op ‘n mengsel van natuurlike veld, aangeplante weiding, oesreste en aangekoopte voer markgereed gemaak word. Die kontantvloeibeplanning van ‘n boerdery is ‘n ingewikkelde oefening, waarvan die vrye bemarking van vee op bepaalde tye ‘n noodsaaklike element is.

Wanneer boere nie vee kan verhandel nie, is dit nie-noodsaaklike uitgawes wat eerste besnoei word. Dit mag die boer se kontantvloei steun, maar almal van die kerk en die haarkapper, tot insetverskaffers en nie-noodsaaklike arbeid, se kontantvloei droog op.

Wanneer ondernemings sluit en die eienaars genoodsaak word om stad toe te trek of selfs vlugtelingstatus in die VSA te aanvaar, herstel dit nie vanself wanneer vee weer bemark kan word nie.

Elke week wat die krisis voortduur, raak die blywende skade groter.

Die staat behoort oor die finansiële hulpbronne te beskik om vir die koste van verkryging, verspreiding en toediening van entstowwe in te staan. Dit beskik egter duidelik nie oor die nodige mense- en logistieke vermoë nie. Daarom moet die hulp vanuit die bedryf eerder verwelkom as bestry word.

Intussen doen die VF Plus ‘n beroep op banke om verliese as gevolg van hierdie ramp nie as blote bedryfsverliese te benader nie, maar as deel van ‘n natuurramp. Toegeeflike kredietbestuur kan op die lange duur die hele plaaslike ekonomie red.

Sakeredding is ‘n moontlikheid vir boere wat ‘n finansiële krisis voorsien. Indien boere sakeredding oorweeg, moet hulle in ag neem dat die tydraamwerk waarbinne ‘n reddingsplan aangebied en onderhandelings met krediteure aangeknoop word, uiters veeleisend is – veral vir ‘n ingewikkelde onderneming soos ‘n boerdery.

Dit is duidelik dat die finansiële sektor, van die landbank, deur landbouondernemings (voormalige koöperasies), handelsbanke en sakereddingspraktisyns, ook húl deel sal moet doen om plattelandse gemeenskappe se lewenskrag te handhaaf.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.