Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni sy eie grootste vyand: R352 miljoen vermors op mislukte kabeldiefstal-toestelle

Die feit dat net meer as 300 van Ekurhuleni se 24 139 teen-kabeldiefstaltoestelle nog ʼn in werkende toestand is, is ʼn bewys dat die ANC/EFF-koalisie niks voel vir die ongerief en ekstra onkoste wat die voortdurende kabeldiefstal vir inwoners en ondernemings meebring nie.

Dié onthulling is gedoen deur die Ekurhuleni-metro se ANC-burgemeesterskomiteelid vir finansies, Jongizizwe Dlabathi.

Hierdie sensors, wat teen ʼn koste van R352 miljoen aangekoop is, is veronderstel om vibrasies, snywerk of verdagte gepeuter aan kragkabels en substasies te bespeur en onmiddellik ʼn waarskuwing na ʼn beheerkamer te stuur.

Dlabathi het die skuld vir die ineenstorting van die projek voor die deur van sy voorganger, die EFF se Nkululeko Dunga, gelê, ten spyte van die feit dat die ANC en EFF steeds koalisievennote in Ekurhuleni is.

Hierdie skuldverskuiwing wys duidelik dat die regerende koalisie sy interne magstryd bo die belange van inwoners stel.

Terwyl politieke vennote mekaar verkwalik, sit duisende inwoners dae lank sonder krag weens aanhoudende kabeldiefstal.

Dié projek, wat veronderstel was om ’n doeltreffende vroeë waarskuwingstelsel te wees, het in stede daarvan ’n simbool van wanbestuur, korrupsie en ’n totale gebrek aan aanspreeklikheid geword.

Die VF Plus eis daarom die volgende onmiddellike stappe:

• Dissiplinêre en strafregtelike ondersoeke teen alle amptenare en politieke ampsdraers wat betrokke was by die verkryging, implementering en bestuur van die projek;
• Duidelike en afdwingbare gevolge vir enigiemand wat aan wanbestuur of wangedrag skuldig bevind word;
• ’n Omvattende, deursigtige verslag aan die raad oor presies hoe die R352 miljoen bestee is en waarom die oorgrote meerderheid van die toestelle nou onbruikbaar is.

Indien bevind word dat vertraagde tenderprosedure die oorsaak is, versoek die VF Plus’ n verslag na die volgende raadsvergadering wat aandui wat die oponthoud is en hoe dit moontlik versnel kan word.

Die VF Plus wil beklemtoon dat Ekurhuleni nie ’n befondsingsprobleem het nie, maar ’n ernstige bestuurs- en aanspreeklikheidsprobleem. Miljoene rand word vermors terwyl inwoners die prys betaal met lang kragonderbrekings en onveilige gemeenskappe.

Die party sal seker maak dat hierdie skandaal nie onder die mat ingevee word nie.

Inwoners verdien beter as ’n regering wat sy eie infrastruktuur nie eens kan beskerm nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.