Die VF Plus het tydens die jongste raadsvergadering van die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Standerton en Morgenzon) die munisipaliteit se aankopeverslag vir die laaste kwartaal van 2025 indringend bevraagteken.
Dit volg nadat die ANC-burgemeester, Sifiso Mngemezulu en die burgemeesterskomiteelid vir begroting en tesourie, Thabang Motaung, buitensporige besteding afmaak as bloot “tikfoute” ten spyte van duidelike dokumentasie wat die teenoorgestelde bewys.
Sekere items is aangekoop teen pryse wat die markwaarde dramaties oorskry en dui op swak bestuur, moontlike korrupsie of ’n totale gebrek aan fiskale dissipline.
Voorbeelde sluit in:
• Ses stukke vierkantige staalpype van 6 meter lank en 75mm x 75mm wat R17 859 gekos het, terwyl dieselfde by Cashbuild net R3 209,70 sou kos.
• ’n Pak van 24 x 500ml bottels water wat teen R13 200 gekoop is – meer as 65 keer die normale markprys van sowat R200.
• 50 toebroodjies met spek, eiers, botter en blaarslaai wat R26 250 gekos het.
• Vyf bakke HTH-chloorkorrels (swembad- en waterontsmetting) van 25kg elk teen R36 363, terwyl die markwaarde net R6 495 is.
• 15 plastiek tuinharke teen R15 500, terwyl dieselfde items by Cashbuild R1 335 sou kos.
• Elektriese voorraad van R1,867 miljoen in Oktober 2025 en nóg meer as R1 miljoen in Desember 2025, ondanks die feit dat daar dikwels geen noodvoorraad beskikbaar is nie.
In ’n munisipaliteit wat reeds jare lank sukkel met dienslewering, skuld en wanbestuur, is sulke oorbesteding onaanvaarbaar en ’n direkte verraad van belastingbetalers se vertroue.
Daar moet onmiddellike ‘n omvattende oudit van alle aankope gemaak word om fiskale dissipline te herstel, oortreders aanspreeklik te hou en die belange van inwoners te beskerm.
Terwyl die burgemeester en sy burgemeesterskomiteelid miljoene rand se buitensporige aankope as “tikfoute” afmaak, ly baie inwoners van Lekwa daagliks onder armoede en honger.
Dit is ondenkbaar dat belastingbetalers se geld teen R26 250 vir 50 toebroodjies vermors word, terwyl gesinne in dieselfde gemeenskap nie eens ’n droë brood op die tafel kan sit nie.
Hierdie wanbestuur is ’n klap in die gesig van elke inwoner wat swaar betaal vir ’n munisipaliteit wat sy plig versaak.
Die tyd het aangebreek om van die ANC by die stembus ontslae te raak en te vervang met ʼn party, soos die VF Plus, wat glo aan aanspreeklikheid en ordentlike dienslewering.


