Dit is skokkend dat mnr. Alexander Kannemeyer steeds werk as senior bestuurder van menslike hulpbronne by die munisipaliteit van Stellenbosch nadat ‘n video enkele weke aan die lig gekom het waarin hy glo vra dat wit personeellede van die munisipaliteit uitgedryf word.
In ‘n uitgelekte video kan gehoor word hoe ‘n man, na bewering Kannemeyer, sê daar moet van wit werknemers ontslae geraak word om transformasieteikens te bereik.
Dit moet gedoen word deur “die lewe moeilik te maak” vir wit werkers om hulle te dwing om te bedank en dat mense van kleur aangestel moet word, al is hulle “ongeskoold”.
Dit het onder die VF Plus se aandag gekom dat mnr. Kannemeyer intussen self bedank het as waarnemende direkteur van korporatiewe dienste by munisipaliteit.
Dit het gevolg ná groot openbare druk en ontsteltenis oor sy gedrag , asook die behoefte aan ‘n billike en deursigtige ondersoek na sy optrede.
Dit is vir die VF Plus skokkend en onaanvaarbaar dat die munisipaliteit, gegewe die ernstige klagte teen mnr. Kannemeyer asook die beskikbare bewyse en getuienis van mense wat reeds oor die situasie na vore gekom het, nie summier geskors het hangende die ondersoek nie.
Die VF Plus dring weer daarop aan dat die munisipale bestuurder, me. Geraldine Mettler, onmiddellik optree om mnr. Kannemeyer te skors om seker te maak die ondersoek word op geen manier belemmer word nie.
Die DA-regering moet, soos wat die party gewoonlik vereis ANC-regerings moet optree, Kannemeyer skors hangende die ondersoek.
Die integriteit van Stellenbosch se munisipale bedrywighede en dienslewering moet voorop gestel word.
‘n Skorsing sal ‘n onbevooroordeelde en deeglike ondersoek sonder inmenging toelaat en sal ‘n duidelike boodskap stuur dat aanspreeklikheid ‘n hoeksteen van goeie bestuur is.
Die inwoners en belastingbetalers van Stellenbosch verdien dit om te weet dat die amptenare in hul dorp die beste is om die werk te doen.
Die verval in die res van die land wys wat gebeur wanneer onbevoegde persone in senior poste aangestel word.


