Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Omarm die geskiedenis en help bou aan ‘n beter Suid-Afrika

(Parlementsdebat: Stigting van ‘n ad hoc-komitee om die voortgesette teenwoordigheid van apartheidsera-standbeelde en -gedenktekens in openbare ruimtes te ondersoek)

In ‘n land waar die ekonomie nie groei nie, waar werkloosheid staan op meer as 33% en mense desperaat is vir ‘n werk en ‘n inkomste, wil die EFF eerder ‘n debat voer oor die verwydering van standbeelde en gedenktekens.

Dit herinner aan die EFF se opportunisme vier jaar gelede om die ANC te uitoorlê met die artikel 25-debat oor onteiening en eiendomsregte.

Die EFF verwys selfs na die standbeeld van pres. Paul Kruger voor die Uniegebou en sê sulke simbole laat hulle “minderwaardig” voel. Daar is nie ‘n standbeeld van Kruger voor die Uniegebou nie. En niemand kan jou minderwaardig laat voel buiten jyself nie.

Die volgende stukkie geskiedenis wys waarom onkunde oor die verlede so gevaarlik is:

Koning Dinuzulu kaCetshwayo is in 1868 gebore. In 1884 het hy die boere se hulp gevra in ‘n konflik met hoofman Zibhebhu kaMaphita, wat Dinuzulu se aanspraak op die kroon uitgedaag het. Genl. Louis Botha het Dinuzulu gaan help om sy vyand te verslaan.

Die Britte het Dinuzulu later jare van hoogverraad beskuldig ná die Bambatha-opstand en het hom in 1908 opgesluit. Na uniewording in 1910, het Louis Botha in een van die eerste stappe wat hy as premier geneem het, vir Dinuzulu vrygelaat.

Vandag, op die hoek van Berea Road en Warwick Avenue in Durban, staan twee standbeelde teenoor mekaar wat hierdie besondere vriendskap uitbeeld: Een van koning Dinuzulu kaCetshwayo en die ander Louis Botha.

Dit is dieselfde Louis Botha wie se standbeeld nou nie meer welkom is nie.

Die debat hieroor in parlement het gewys dat daar in Suid-Afrika bouers en brekers is, en gelukkig is dit duidelik dat die meerderheid bouers is. Dit is die mense wat die realiteite van die verlede erken en terselfdertyd erkenning wil gee aan die hedendaagse helde en staatsmanne.

Die VF Plus sal hierdie positiewe gesindheid steun. Die brekers wat alles van die verlede wil vernietig, ook die geskiedenis, sal mettertyd besef dat dit geen verskil hoegenaamd maak aan die realiteite van vandag se Suid-Afrika nie.

Hierdie realiteite is dat die ekonomie stilstaan en daar nie werk geskep word nie. Die VF Plus doen ‘n beroep om almal in die land om saam te bou aan ‘n toekoms. Die verlede kan nie verander word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.