fbpx
Vryheidsfront Plus

OG-verslag vir Modimolle-Mookgophong ontstellend

Die ouditeur-generaal (OG) se verslag vir die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit (MMLM) (Nylstroom, Naboomspruit, Alma, Roedtan, Vaalwater) is onrusbarend en ontstellend.

Luidens die verslag het dié munisipaliteit se finansiële state 'n gekwalifiseerde ouditmening ontvang vir die 2021/22-finansiële jaar.

Elke paragraaf spreek van onbekwaamheid, gebrekkige inligting, ontoereikende stelsels vir rekordhouding en uiterste ondeursigtigheid.

Onbetroubare stelsels om rekordhouding te doen, onvolledige bateregisters, gebrekkige bewyse en finansiële bedrae wat nie ooreenkom nie, is enkele probleme wat genoem word. Dit sluit in:

• Kontantvloei:
Die munisipaliteit het nie die netto kontantvloei uit bedryfsaktiwiteite korrek voorberei en verklaar soos benodig nie. Die state het soveel foute bevat dat die OG dit as onprakties geag het om verdere bepalings te maak.

• Wesenlike onsekerheid met betrekking tot lopende saak/finansiële volhoubaarheid:
Die munisipaliteit se bedryfslaste het sy huidige bates oorskry met R609 877 149.

• Eiendomme is geïdentifiseer wat aan die munisipaliteit behoort, maar word glad nie gevind in die finansiële state nie. Daar is ook nie rekenkundige bewyse daarvan nie. Die ondergeskatte waarde is R459 287 721.

• Diensleweringsopbrengs
Die OG het verskille tussen meterlesingverslae en faktuurverslae opgemerk. Nie-invorderingsverbruikers is ook verkeerd geklassifiseer as invorderingsverbruikers. 'n Bedrag van R17 559 089 is as ondergeskatte waarde ingelees.

• Die munisipaliteit het nie alle onreëlmatige uitgawes in die aantekeninge by die finansiële state ingesluit nie. Transaksies wat in stryd met die vereistes van die voorsieningskettingbestuur gemaak is, het daartoe gelei dat onreëlmatige uitgawes met R11 611 997 onderskat is.

• Gebeurlikheidsplanne / onvoorsiene uitgawes
Weereens was daar geen rekord van onvoorsiene uitgawes in die state nie weens geen konkrete interne kontrole nie. ’n Bedrag van R156 291 360 as ondergeskatte uitgawe word hier aangeteken.

Die OG-verslag beeld die munisipaliteit uit as korrup, onverantwoordelik, onbetroubaar en ‘n "mislukking" wat dienslewering aan die belastingbetalende inwoners betref.

Die VF Plus se mening is dat daar beter opleiding, verantwoordelike, streng toesighouding en eerlike, deursigtige stelsels in plek gestel moet word.

Skuldiges behoort strafregtelik vervolg te word en ‘n kleiner bemagtigde groep amptenare behoort die verhaling van verlore gelde te bestuur.

Die situasie kan nie so voortduur nie en die MMLM moet nou onverwyld optree om die situasie om te keer.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.