Die VF Plus gaan die Ekurhuleni-metroraad versoek om van die nuwe vullisverwyderingstrokke, waarvoor in die aansuiweringsbegroting voorsiening gemaak word, te ontplooi in Kemptonpark.
In die aansuiweringsbegroting word fondse beskikbaar gestel aan die omgewingsafval-departement om broodnodige nuwe vullistrokke aan te skaf om te verseker dat vullisverwydering stabiliseer.
Kemptonpark het tans die gebruik van twee tot drie vullistrokke wat nie genoeg is om een van die 30 gebiede per week te diens nie.
Om vullisverwydering suksesvol te doen, het Kemptonpark ten minste elf trokke nodig.
Die ander probleem is die kompakteerders by die Norkempark-oorlaaistasie wat buite werking is.
Die kompakteerders was in 2008 laas in bedryf en moet dringend herstel word.
Die ANC wat destyds in beheer van die metro was, het selde indien ooit gesorg dat belangrike toerusting onderhou word.
Wanneer die kompakteerders in werking is, kan vier keer meer vullis daar afgelaai word.
Die VF Plus, as deel van die koalisieregering in Ekurhuleni, sal alles in sy vermoë doen om dienslewering en belangrike onderhoud aan toerusting weer op dreef te kry.


