Die 28 nuwe ambulanse wat die departement vir gesondheid in Limpopo aangekoop het is veels te min, maar dit word steeds verwelkom om die groot behoefte aan ambulanse te verlig.
Die ambulanse is gister in ontvangs geneem by die Voortrekker-hospitaal in die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit (Potgietersrus) in die Waterberg-distrik. Dit is bykomend tot sewentig wat onlangs reeds aangekoop is.
Met die departement se 2023/24-begrotingsrede het die LUR vir gesondheid, me. Phophi Ramathuba, aangekondig dat die departement sy begrotingstoewysing herprioritiseer en dat ‘n bedrag van R500 miljoen bewillig sou word om 500 ambulanse aan te skaf.
Dit dui op die omvang van die nood.
Dit is belangrik om ambulanse deurlopend aan te skaf en nie te wag totdat daar ʼn groot agterstand is nie.
Limpopo het ‘n bevolking van net meer as 6.4 miljoen mense. Nasionale gesondheidsriglyne beveel ‘n verhouding aan van een ambulans vir elke 10 000 mense.
Hospitale wat ambulanse ontvang het, is die Siloam-hospitaal in die Vhembe- distriksmunisipaliteit (Louis Trichardt, Musina) (35 ambulanse) en die Nkhensani-hospitaal in die Mopani-distriksmunisipaliteit (Hoedspruit, Tzaneen, Phalaborwa) (35).
Die departement mik daarna om voor die einde van 2023 nog 402 nuwe ambulanse af te lewer.
Die VF Plus sal graag wil sien dat die verspreiding van hierdie ambulanse gedoen word met inagneming van gebiede en dorpe se nood en behoefte aan nooddienste, soos Vaalwater.
Instandhoudingsplanne vir hierdie nuwe ambulanse moet ook behoorlik toegepas en geprioritiseer word.