Terwyl die land in rep-en-roer is oor politici se weglating van partylyste op voorblaaie, verskyn daar ‘n klein weggesteekte berig op bladsy 7 van ‘n Gautengse dagblad oor ‘n pa in Delmas, Mpumalanga, wat albei sy 3 jarige tweeling dogtertjies verkrag het. Dit laat ‘n mens sprakeloos dat ‘n land so emosioneel verdoof is oor verkragting van kinders en babas dat ‘n geval soos hierdie in die politieke glans van die oomblik verdwyn, sê raadslid Amanda de Lange, woordvoerder van die Vryheidsfront Plus se Vrouekomitee.
Die gewetenloosheid en vergrype van sulke ouers teenoor ‘n eie kind druis teen alle beginsels in, sê sy.
Die regering en ander politieke partye is so verblind deur hulle politieke resies dat die belangrikste kwessies soos morele en sosiale verval in ons land geen of bitter min aandag van hierdie openbaar verkose amptenare geniet.
Volgens De Lange gaan die Vrouevleuel van die Vryheidsfront Plus indringend aansoek doen dat wetgewing vir die mishandeling en verkragting van kinders daadwerklik opgeskerp word asook die toepassing van hierdie wetgewings. Sy bevestig dat daar ook versoek gaan word dat die vonnisoplegging vir sulke oortredings drasties vermeerder word en die uitvoer daarvan met geen versagting gepaard moet gaan nie.
Amanda de Lange
Vryheidsfront Plus Gauteng : Media Woordvoerder
Kontak : 071 604 9498