Wenkbroue het gelig met die aankondiging dat diensleweringsdepartemente se begrotings met enkelsyfers gegroei het terwyl die begroting vir die premier se kantoor, Zamani Saul, toeneem met 55%.
Die Noord-Kaapse LUR vir finansies, Abraham Vosloo, het Woensdag dié provinsie se begroting ter tafel gelê.
Die VF Plus sal die toename in die premier se begroting fynkam wanneer die besonderhede van die departemente se onderskeie begrotings bespreek word.
Die goeie nuus is dat die provinsie se billike aandeel wat van die sentrale regering ontvang word, oor die volgende drie jaar met meer as R400 miljoen gaan toeneem. Dit help om die begrotingstekort wat voorsien word, te verklein.
Onderwys en gesondheid bly die provinsie se grootste uitgawes met onderskeidelik sowat R8 miljard (styging van 3,7%) en R6 miljard (styging van 5,2%) onderskeidelik.
Paaie en infrastruktuur se begroting styg met 'n aansienlike 19% tot meer as R2 miljard.
Die toestand van provinsiale paaie is haglik weens die geweldige toename van mangaanerts wat per pad uit die Kalahari na verskillende hawens vervoer word.
Die Noord-Kaapse ekonomie steun baie sterk op landbou. Met 'n begroting van sowat R950 miljoen vir landbou en grondhervorming, sou die VF Plus 'n sterker styging as die 3% wat aangekondig is, wou sien.
Die Noord-Kaap met sy yl bevolking en groot afstande skep spesifieke uitdagings ten opsigte van vervoer, onderwys en gesondheid.
Uitvoering in hierdie departemente moet verbeter aangesien die welsyn en ekonomiese vooruitsigte vir inwoners en die provinsie daarvan afhang.