Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

NMBM se vervalle rioolinfrastruktuur oorsaak van strand-sluitings

Die VF Plus plaas die skuld vir die tweede sluiting van Kings Beach in een maand, vierkantig voor die deur van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) weens sy versuim om rioolinfrastruktuur te onderhou en verouderde infrastruktuur te vervang.

Kings Beach is op 30 Julie vir ‘n tweede keer gesluit weens ʼn gebarste rioolpyp in die hawe wat riool in die see en oor voetgangerpaadjies laat vloei het.

Die swaar reën oor die naweek van 26 – 27 Julie kon wel ʼn bydrae gelewer het tot die rioolstorting, maar die moontlikheid sou beduidend kleiner gewees het indien die metro gehoor gegee het aan die VF Plus se oproepe om tydige opgraderings en volgehoue instandhouding van infrastruktuur.

Dit is ook nie die enigste strand in die NMBM wat gesluit is weens rioolstortings nie. Brighton Beach is sedert Desember 2024 gesluit weens hoё E. coli-vlakke vanaf die Fishwater Flats-rioolsuiweringsaanleg.

Cape Recife is ook al vir maande gesluit weens soortgelyke rioollekkasies. Hierdie herhaalde sluitings is ’n direkte gevolg van die metro se nalatigheid.

Die NMBM se laaste rioolmeesterplan is opgestel in 2009. Daarin is ‘n behoefte vir 286km se pyplyne en twee nuwe rioolsuiweringsaanlegte uitgelig, maar min vordering is gemaak en die plan is nie opgedateer nie.

Hierdie rioolstortings bedreig openbare gesondheid, vernietig mariene ekostelsels en benadeel die metro se toerismebedryf en plaaslike ekonomie.

Die VF Plus dring daarop aan dat daar onmiddellik opgetree word om die bestaande infrastruktuur op te gradeer en dat ‘n langtermyn-strategie in plek gestel word om soortgelyke krisisse te voorkom.

Die metro kan nie voortgaan om pleisters op ‘n gebroke stelsel te plak nie. Infrastruktuur is nie ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklikheid en dit is hoog tyd dat die metro dit as sodanig begin behandel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.