Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit ( Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se verkeerswiele val nou behoorlik af nadat ʼn diensverskaffer al sy spoedtoerusting en data verwyder het.
Die munisipaliteit se departement van verkeer het dus geen inligting meer oor uitstaande boetes vanaf 2021 tot 16 Julie vanjaar nie.
Die toerusting wat verlore is, is spoedkameras en kameras wat motorongelukke vasvang.
Die diensverskaffer het sy toerusting verwyder voordat die kontrak tot ʼn einde gekom het weens wanbetaling van die munisipaliteit. Die nuwe stelsel het op 16 Julie vanjaar in werking getree.
Hierdie is slegs een van die diensverskaffers wat Emfuleni weens finansiële wanbestuur nie kon betaal nie.
Verlede week moes die munisipaliteit raap en skraap om ʼn gedeelte van die huurgeld te betaal om die munisipaliteit se kliëntediens in Paul Krugerstraat in Vanderbijlpark te heropen nadat die deure gesluit was.
Die VF Plus is bekommerd daaroor dat motoriste die afwesigheid van ʼn ordelike verkeerstelsel gaan uitbuit en verkeersreëls verontagsaam.
Die onverantwoordelike bestuur van die Emfuleni-munisipaliteit kan nie voortduur nie en kiesers het geen ander keuse om in die 2026-munisipale verkiesing die ANC-regering uit die kussings te lig nie.


