Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni wil “oortollige” en “verouderde” voorraad afskryf en verkoop

Die VF Plus kan nie die Ekurhuleni-metro se plan steun om “oortollige” en “verouderde” munisipale voorraad ter waarde van R8,7 miljoen af te skryf en op ʼn openbare veiling te verkoop nie.

Dit voorraad sluit onder meer in straatligtoebehore, lampe, dreineringstelsels, brandblussers, vullissakke, stroombrekers, kragkabels, buisligte, verf, voertuigonderdele en bande.

’n Deeglike ontleding van die bylaes toon duidelik dat baie van die items wat vir wegdoening voorgestel word, glad nie verouderd is nie, maar inteendeel van kardinale belang is vir die metro se daaglikse dienslewering.

Hierdie is nie luukse items of ou rommel nie. Dit is noodsaaklike toerusting wat nodig is om basiese dienste aan die gang te hou. Terwyl inwoners in die duister sit en vullis op sypaadjies ophoop, wil die metro dié voorraad as “oortollig” verkoop.

Wat die saak nog meer verdag maak, is dat daar geen fotografiese, tegniese of amptelike bewys gelewer is dat hierdie items werklik onbruikbaar is nie.

Die raad is gevra om die wegdoening in goedgelowigheid te steun, sonder enige feitelike bewys.

Die VF Plus wonder of dit regtig oor oortollige voorraad gaan of moontlik nog ’n poging is om vinnig geld in te samel om die gate van ’n swak beplande en gebrekkige begroting toe te stop.

Die VF Plus sal nie die wegdoening van voorrade steun wat moontlik nog bruikbaar is nie, veral nie wanneer departemente reeds gebuk gaan onder tekorte en werkers nie oor die nodige toerusting beskik om hul werk te doen nie.

Die party dring aan op ’n volledige, deursigtige oudit van alle items wat vir wegdoening voorgestel word, insluitend foto’s, gebruiksverslae en bevestiging vanaf die betrokke departemente.

Die VF Plus sal aanhou veg vir eerlike, deursigtige bestuur, nie vinnige verkope wat as doeltreffendheid vermom word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.