Die VF Plus het akkuraat voorspel dat die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) nie daarin gaan slaag om sy toelaagfondse van die nasionale tesourie (NT) te bestee nie.
Dié voorspelling is nou bewaarheid en die NMBM moet R379 miljoen vir die 2023/24-finansiële jaar teruggegee aan die NT.
Die Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mnr. Zolile Williams het onlangs benadruk hoe die NMBM nie daarin kan slaag om basiese diensleweringsprobleme soos die regmaak van slaggate en die beperking van ernstige waterverlies te behandel nie.
Dit is ten spyte van die beskikbaarheid van toelaes wat vir hierdie doel beskikbaar gestel is.
Die VF Plus waarsku al lank dat die huidige administrasie nie oor die vermoë en politieke wil beskik om die metro se inwoners te dien nie.
Die VF Plus werk daaraan om streng moniteringstelsels in alle departemente te vestig om te bepaal hoeveel geld waar aangewend word om die metro se begroting beter te bestuur.
Die party bepleit ook beter deursigtigheid in projekbeplanning en tenderprosesse om korrupsie so gou doenlik uit te wys en aan te spreek.
Die party sal aanhou om die ANC-geleide plaaslike regering te wys op die belangrikheid van verantwoordelike bestuur en aanspreeklikheid om te verseker dat inwoners die dienste ontvang waarvoor hul ten duurste betaal.