Weens die ANC se wanbestuur van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) het Eskom nou kragvoorsiening aan dié munisipaliteit oorgeneem.
Die ooreenkoms volg op ʼn hofbeslissing in Julie verlede jaar ingevolge waarvan alle ondernemings vanaf September 2023 hul uitstaande kragskuld direk aan Eskom oorbetaal het.
Vanaf 1 November sal huishoudings deel van die ooreenkoms word.
Daar is ʼn totaal van 76 000 rekeningshouers in Emfuleni wat nou direk aan Eskom vir kragverskaffing gaan betaal. Eskom is ook nou verantwoordelik vir die munisipale kragverspreidingsinfrastruktuur.
Emfuleni sal op sy beurt met Eskom saamwerk om te verseker dat kragvoorsiening doeltreffend bestuur word en sal relevante inligting rakende verbruikers en infrastruktuur aan Eskom oordra.
Alhoewel dit voordelig is vir Eskom om direk betaling te ontvang van inwoners en ondernemings vir kragverskaffing, voorspel dit niks goed vir die munisipaliteit se inkomste nie.
Weens die ooreenkoms gaan Emfuleni feitlik geen inkomste verkry uit kragverskaffing nie en bestaan daar ʼn moontlikheid dat hy nie sy ander verpligtinge sal kan bybring nie.
Die ooreenkoms gaan dit verder vir Emfuleni onmoontlik maak om sy historiese skuld van R5,2 miljard aan Eskom te vereffen. Die rente op die agterstallige skuld alleen beloop R12 miljoen per maand. Emfuleni skuld tans in totaal R8 miljard aan Eskom.
Die VF Plus steun nie die ooreenkoms tussen Eskom en Emfuleni nie en het voorgestel dat Eskom die rente op die agterstallige skuld vries om die munisipaliteit in staat te stel om sy skuld te vereffen.
Die ooreenkoms sal beëindig word wanneer Emfuleni sy skuld ten volle aan Eskom betaal het.
Die VF Plus twyfel of dit ooit sal gebeur en glo dat Eskom nou die munisipaliteit gedeeltelik oorgeneem het.
Die situasie is net weer ʼn bekragtiging van die ANC se wanbestuur en senior personeel wat eenvoudig te onbevoeg is om ʼn munisipaliteit te bestuur.
Die VF Plus voorsien dat Emfuleni eersdaags dieselfde ooreenkoms met Randwater sal moet aangaan weens sy uitstaande skuld van R1,2 miljard aan dié watervoorsiener.