Die feit dat Suid-Afrika Taiwan opdrag gegee het om sy “ambassade” uit Pretoria na Johannesburg te verskuif en dit as ʼn handelskantoor te bedryf, wys dat die ANC onbeskaamd toelaat dat China sy toutjies trek wat buitelandse beleid aanbetref.
Die ANC het hierdie besluit geneem sonder om sy vennote in die regering van nasionale eenheid (RNE) te raadpleeg en die VF Plus sal daarop aandring dat die besluit in heroorweging geneem word.
Die aangeleentheid is veel meer ernstig as wat dit op die oog af lyk en kom daarop neer dat die ANC Suid-Afrika se outonomie prysgee onder druk van China.
President Cyril Ramaphosa kan nie aan die eenkant aan die wêreld vertel dat die RNE ʼn “wonderwerk” is terwyl hy sy vennote in regering tuis minderwaardig behandel nie.
China is wel Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, maar die Suid-Afrikaanse regering moet daarop let dat in- en uitvoere tussen hom en Taiwan luidens mediaberigte in die laaste jaar sowat 900 miljoen dollar (bykans R16 miljard) beloop het.
Dit verteenwoordig talle werksgeleenthede en Suid-Afrika kan dalk net die grootste verloorder wees indien Taiwan besluit om sy handelsbande met Suid-Afrika op te skort.
Benewens Taiwan se bande met die vorige bedeling, het dié land Suid-Afrika oor dertig jaar geen rede gegee vir hierdie klap in die gesig nie.
Die RNE moet alles moontlik doen om die ekonomie te laat groei om werksgeleenthede te skep en hierdie stap sal werksgeleenthede verminder.


