Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

eMalahleni se water- en kragkrisis verg onmiddellike ingryping

Die VF Plus eis onmiddellike ingryping om die voortdurende agteruitgang van water- en elektrisiteitsdienste in die eMalahleni-plaaslike munisipaliteit stop te sit.

’n Memorandum hieroor is vandag aan die munisipaliteit se munisipale bestuurder, Sizwe Humphrey Mayisela, oorhandig.

eMalahleni funksioneer tans soos ’n sinkende skip, met inwoners wat daagliks onder water- en kragonderbrekings gebuk gaan terwyl die toestand van die munisipaliteit se infrastruktuur steeds versleg.

Die omvang van die krisis word beklemtoon deur die munisipaliteit se buitengewone verliese. Na raming gaan sowat 50% water en tussen 25% en 35% elektrisiteit verlore voordat dit inwoners bereik. Dit is bykans die helfte van die water en ’n derde van die krag wat aangekoop word wat verdwyn weens lekkasies, diefstal en vervalle infrastruktuur.

Hierdie verliese kos belastingbetalers jaarliks miljoene rande. Die VF Plus versoek die munisipaliteit om die bepalings van deel 2 (artikels 76 tot 78) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, toe te pas.

Dit vereis dat munisipaliteite gereeld moet bepaal of hulle oor die vermoë beskik om dienste doeltreffend self te lewer en of sekere funksies aan bevoegde eksterne diensverskaffers toevertrou moet word.

Die munisipaliteit het ’n duidelike wetlike verpligting om basiese dienste aan inwoners te lewer. Dit is nie langer volhoubaar om op ’n stelsel staat te maak wat voortdurend faal en groot bedrae aan noodherstelwerk vereis nie.

Gekwalifiseerde en ervare eksterne spesialiste behoort aangestel te word om die water- en elektrisiteitsnetwerke te stabiliseer. Só ’n benadering sal na verwagting op die lang termyn ook aansienlik meer kostedoeltreffend wees.

Die VF Plus doen daarom ’n beroep op die munisipale leierskap om sonder verdere versuim ’n duidelike en uitvoerbare plan bekend te maak vir die aanstelling van eksterne kontrakteurs om die probleem te beredder.

Die inwoners van eMalahleni verdien betroubare basiese dienste en kan nie langer aan voortdurende krisisbestuur uitgelewer word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.