Dit is duidelik uit die pas afgelope openbare verhore oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) dat inwoners van die Vrystaat meestal ontevrede is met die toestand en dienste by provinsiale klinieke en hospitale.
Die lang wagtye by klinieke, asook die beskikbaarheid van medikasie en ambulanse in die provinsie, is probleme wat inwoners opgebring het wat nie deur die NGV as ʼn staatsbeheerde fonds aangespreek sal word nie.
Die fonds gaan bloot ʼn gesentraliseerde finansieringsmodel wees wat net sal betaal vir dienste wat aan pasiënte gelewer is.
Die wetsontwerp word tans in die Vrystaat oorweeg waarna die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) oor die NGV sal stem.
Die Vrystaatse departement van gesondheid het tydens die openbare verhore erken slegs drie van die 22 staatshospitale in die provinsie het die ideale status om hulle as NGV-geakkrediteerde hospitale te laat funksioneer.
Die onus gaan berus by die departement om hospitale se gesondheidsorg by hospitale en klinieke te verbeter, en nie die voorgestelde NGV nie.
Die LUR vir gesondheidsorg in die Vrystaat, me. Mathabho Leeto, het ook in haar begrotingsdebat vanjaar erken die provinsie benodig 152 ambulanse om aan die behoeftes van Vrystaatse pasiënte te voldoen.
Die VF Plus in die Vrystaat sal in die portefeuljekomitee sy besware indien teen die gevaarlike wetsontwerp wat vuisvoos belastingbetalers verder sal belas terwyl minder dienste gelewer sal word.


