Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

NGV: Onderhandelinge kan nie plaasvind oor ‘n halfgebakte “aartappel” nie en regsdruk moet volgehou word

Die VF Plus, wat sedert die NGV-wetsontwerp in 2019 in die parlement ter tafel gelê is die voortou geneem het met kritiek daarteen, meen dat die nege hofsake wat tans teen die wetgewing aan die gang is, ten alle koste moet voortgaan.

Onderhandelinge en dialoog oor die aangeleentheid is op sigself goed, en alhoewel die VF Plus nie aan litigeerders kan voorskryf wat om te doen nie, is die druk en optrede vanuit alle oorde van kardinale belang om die beoogde wet te stuit.

Namate hierdie druk toeneem, sal die ANC se weerstand verkrummel en dit is waarskynlik die rede waarom die ANC nou skielik oor onderhandelinge wil praat.

Die enigste manier om die omstredenheid rondom die NGV op te los, is om die wetgewing heeltemal te skrap. Daar moet teruggekeer word na die tekenbord, saam met professionele mediese kundiges uit die openbare én private sektor, om ’n stelsel te ontwikkel wat werklik tot almal se voordeel kan strek.

Só ’n model moet pragmaties, nugter en op feite gegrond wees en nie, soos die NGV, deur ANC-politici uit die duim gesuig wees nie.

Die onderhandelinge wat die minister van finansies, Enoch Godongwana, voorgestel het met teenstanders van die NGV wat hulle tot die hof gewend het, kan eenvoudig nie oor ’n halfgebakte NGV-“aartappel” plaasvind nie.

Dit moet eerder fokus op hoe die wetgewing uit die wetboek verwyder gaan word en watter pogings aangewend gaan word om mediese kundiges om een tafel te bring om ’n werkende gesondheidstelsel vir Suid-Afrika te skep.

Die VF Plus is en bly gekant teen ’n nasionaliseringstelsel soos die NGV. Met die 2024/25- en 2025/26-begrotings in die parlement het die party dit duidelik gemaak dat die NGV nooit deur die VF Plus ondersteun sal word nie.

Die party se volgehoue gevegte en openbare uitsprake teen die NGV die afgelope ses jaar spreek vanself.

President Cyril Ramaphosa en die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, moet nou die waarheid aanvaar dat die NGV niks anders is as ’n doodgebore droom nie.
Suid-Afrikaners se swak mediese sorg maak die land self siek.

’n Gesonde Suid-Afrika is eenvoudig onmoontlik solank die openbare gesondheidstelsel siek bly en ANC-ideologie nie daaruit verwyder word nie. Sonder ’n gesonde stelsel kan die land nie behoorlik funksioneer nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.