Die Vryheidsfront Plus-jeug verwelkom die besluit van die NYDA-raad om mnr. Steven Ngubeni met onmiddellike effek as Hoof Uitvoerende Beampte af te dank. “Die VF Plus-jeug is van mening dat die ondersoek na Ngubeni se beweerde bedrog en finansiële wanbestuur voltooi moet word en dat hy wel aanspreeklik gehou moet word en krimineel vervolg moet word indien skuldig bevind. Die VF Plus-jeug het al vir meer as drie jaar die afdanking van Ngubeni geëis. Dit is nou te laat aangesien daar al vir ’n geruime tyd ernstige bewerings oor Ngubeni se aktiwiteite is. Ngubeni het gefaal in sy taak om in NYDA se mandaat te voldoen. Onder sy leiding het NYDA slegs honderde miljoene rande aan salarisse, bonusse, feeste en ander uitgawes bestee wat hoegenaamd nie die jeug van Suid-Afrika bevoordeel het nie,” het Wouter Wessels, VF Plus-jeugleier, vandag gesê.
Die VF Plus-jeug doen ’n beroep op die NYDA-raad om ’n Hoof Uitvoerende Beampte aan te wys wat ernstig oor jeugontwikkeling sal wees.
Die VF Plus-jeug is egter steeds van mening dat die presidensie moet poog om in te gryp om hierdie belangrike instelling effektief te laat funksioneer.
WOUTER WESSELS, LPW
082 674 6670