Die stryd teen die ANC-regering se oënskynlik desperate poging om die gewraakte e-tolstelsel ten alle koste deurgevoer te kry, is nog lank nie iets van die verlede nie, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Adv. Alberts sê die VF Plus is soos ‘alle padgebruikers uiters teleurgesteld’ in die uitspraak van die appèlhof in Bloemfontein wat die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) se appèl teen die stelsel van die hand gewys het
Outa het die hof gevra dat geen e-tol gehef mag word voordat ’n deursigtige en volledige konsultasieproses gehou is nie. Regter Fritz Brand het die appèl geweier en geen kostebevel is gemaak nie.
Adv. Alberts sê hy was baie hoopvol oor die Outa-saak aangesien daar wel meriete is in die argument dat die publiek nie ten volle by ‘n deeglike konsultasieproses betrek is nie.
“Die VF Plus is van mening dat politieke druk vanaf die regering se kant wel ‘n rol gespeel het in die uitspraak aangesien pres. Jacob Zuma die E-Tolwet geteken het net voordat die regters ‘n bevinding moes maak in die Outa-saak. Dit het ‘n duidelike boodskap gestuur oor die regering se standpunt.
“Die publiek moet egter nie moed verloor nie aangesien daar nog geleentheid vir Outa is om hom na die Grondwethof te wend.
“Die VF Plus gaan die E-Tolwet nou ook in die hooggeregshof beveg op grond daarvan dat die wet ongrondwetlik is (soos uitgewys deur die regsopinie van adv. Alberts) en daar bestaan ‘n sterk moontlikheid om suksesvol te wees met so ‘n aansoek,” sê adv. Alberts.
Volgens adv. Alberts het hy Zuma intussen reeds versoek om die regsadvies wat hy aangaande die E-Tolwet ontvang het, aan die VF Plus voor te lê aangesien dié party se inligting is dat die president se eie regsadviseurs ook van mening was dat die E-Tolwet ongrondwetlik is.
“Die VF Plus versoek ook opnuut die publiek om nie e-skyfies te koop nie aangesien dit nie ‘n wetlike vereiste is om een te besit nie en Sanral bloot daarmee hul eie databasis wil opbou om toekomstige afdwinging van e-tol-rekeninge moontlik te maak.
“Sonder die skyfies sal Sanral verplig wees om rekeninge uit te stuur na al die gebruikers. Die werklas sal bloot te enorm wees en die hele stelsel sal in duie stort indien die publiek weier om skyfies te koop,” sê adv. Alberts.
Adv. Anton Alberts
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403