fbpx
Vryheidsfront Plus

Net respek kan die probleem van geweld teen vroue en kinders oplos

Die woordjie respek is die enkele grootste wapen wat gebruik moet word in die stryd teen geweld teen vroue en kinders, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag met die dringende parlementêre debat oor die geweldsprobleem teen vroue en kinders gesê die blote feit dat ‘n debat daaroor in die parlement gevoer moet word, is ‘n klad op die naam van die gemeenskap van Suid-Afrika.

“Vroue en kinders moet sag en met liefde behandel word. En hier speel respek ‘n groot rol. As ‘n man respek het vir homself, sal hy ook respek hê vir vroue en kinders.

“Pres. Zuma het gister gesê vroue moet sake van huishoudelike geweld by die polisie aanmeld, maar hier lê een van die groot probleme. Daar is voorvalle waar vroue verkragting by die polisie gaan aanmeld het, waarna hulle in selle geplaas is en deur die polisie verkrag is.

“Dit is waarom vroue in sommige gevalle bang is om die soort misdaad aan te meld. Al sal die minister van polisie sê vroue moet dit aanmeld en dat daar probleme sal wees vir die betrokke polisiemanne wat nie daaraan aandag gee nie.

“My oplossing is dat ons almal die probleem na ons gemeenskappe terugneem en respek voorop stel as ‘n oplossing. Net respek kan die probleem oplos, en daar rus ‘n verpligting op ons almal om dit te doen,” het dr. Groenewald gesê.

In sy toespraak het dr. Groenwald verwys na uitlatinge van die Zoeloe-koning Goodwill Zwelithini wat gesê het vroue moet teen mans opstaan wat hulle mishandel. Die koning het ook gesê hy sal die probleem binne ‘n maand oplos indien hy die geleentheid kry.

Die koning het verwys na die gebeure by Cato Manor naby Durban in 1959 toe vroue self opgetree het om hul mans uit biersale te verwyder.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.