fbpx
Vryheidsfront Plus

Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp) se begroting ontoereikend en onrealisties

Verbruikers is vuisvoos betaal aan sub-standaard dienste en daar kan nie langer van hulle verwag word om tevrede te wees met vervalle of selfs geen infrastruktuur nie. Die begroting van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit, wat Klerksdorp, Orkney, Hartbeesfontein en Stilfontein insluit, is ontoereikend en onrealisties, het Michal Groenewald, VF Plus-raadslid en leier in Noordwes, na die munisipaliteit se jaarlikse begrotingsvergadering gesê.

Die VF Plus kan nie ‘n begroting ondersteun wat verkeerde prioriteite vooropstel tot nadeel van die inwoners van Matlosana nie.

Volgens Groenewald is die begroting onrealisties en ontoereikend van aard in terme van die wetlike voorskrifte waaraan dit moet voldoen.

Die begrote inkomstevooruitskatting is onrealisties gemeet teen vorige jare. Groenewald sê dat die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur bepaal dat die grootste gedeelte van ‘n munisipaliteit se inkomste deur middel van sy dienste gevorder moet word en dat die begroting se vooruitskatting van inkomste realisties moet wees.

Die invorderingskoerse vir erfbelasting, water, elektrisiteit, sanitasie en riolering is tans jammerlik en sal nooit die geprojekteerde 18% styging in inkomste bewerkstellig nie.

Water- en elektrisiteitsverliese moet bekamp word en uitstaande debiteure moet ingevorder word.

Die Stelselswet bepaal ook duidelik dat ‘n munisipale begroting volhoubaar moet wees in terme van dienslewering en in die beste belang van die munisipaliteit en sy omgewing moet wees, maar tog word die Vaalrivier steeds deur die verkrummelende rioolstelsel by Schoonspruit besoedel en word daar nie behoorlike voorsiening gemaak vir die opgeradering van die munisipaliteit rioolstelsels nie.

Die Stilfonteinwateraanleg is in ‘n jammerlike toestand en sal binnekort in totaliteit vervang moet word. Daarvoor is ook nie behoorlik begroot nie.

Dit is Groenewald se mening dat dit veel goedkoper sou gewees het om die wateraanleg in stand te hou as om dit te vervang en die wanvoorsiening van lopende water en ander noodsaaklike dienste druis in teen die inwoners van Matlosana se grondwetlike reg tot hierdie basiese noodsaaklikhede.

“Die begroting van enige munisipaliteit is die bloudruk vir alle dienste en funksies wat deur die munisipaliteit gelewer en uitgevoer moet word. Hierdie funksies en verantwoordelikhede word duidelik in uiters belangrike wetgewing, soos die Munisipale Stelselswet, asook die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en selfs die Grondwet uiteengesit.

“Daar rus ‘n plig op die administrasie en die raad van die munisipaliteit om hierdie wetlike voorskrifte na te kom en die mense van Matlosana na behore te dien.

Daar moet teruggekeer word na die basiese beginsels van munisipale bestuur. Die munisipale bestuurder moet as rekenpligtige amptenaar verantwoordelikheid neem vir die behoorlike finansiële bestuur van die munisipaliteit, soos die MFMA bepaal en toesien dat die munisipaliteit as ‘n verantwoordbare en verantwoordelike ekonomiese eenheid funksioneer,” het Groenewald gesê.

 

Kontakbesonderhede: 079 409 8342

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.