Die nasionale tesourie, wie se plig dit is om as waghond op te tree oor ander departemente, is luidens die verslag van die ouditeur-generaal (OG) oor die nasionale tesourie en entiteite, self die spoor byster.
Een van die belangrikste punte in die verslag is dat die nasionale tesourie en sy entiteite self nie voldoen aan die wette en vereistes rakende openbare finansiële bestuur nie. Daar was min skoon oudits met ‘n duidelike agteruitgang in hierdie verband in die afgelope jaar.
Dit is kommerwekkend aangesien dit juis nasionale tesourie is wat moet toesien dat ander departemente en munisipaliteite, veral metropolitaanse munisipaliteite, voldoen aan wetlike voorskrifte en regulasies.
Die VF Plus sal wil sien dat Suid-Afrika ‘n effektiewe belastinggaarder moet hê wat goed bestuur word en onafhanklik is. Daar is ‘n noodsaak vir ‘n onafhanklike belastingombudsman.
Die ombudsman is tans vir sy totale begroting afhanklik van die belastinggaarder om enigsins te kan funksioneer. Die parlement sal werk daarvan moet maak om seker te maak die ombudsman kan onafhanklik optree deur betrokke wetswysigings.
Rakende die probleme by die openbare beleggingskorporasie (OBK) is dit onaanvaarbaar dat die ANC-regering toegelaat het wanbestuur en stroping vaardig raak by ‘n instelling soos die OBK.
Die VF Plus verwelkom daarom die stappe wat die OBK-raad geneem het om van die geld wat op ‘n onbehoorlike wyse by die OBK verlore geraak het, te verhaal.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216