Onderliggende faksiegevegte binne die ANC was tasbaar in die Vrystaatse wetgewer se openbare rekeningekomitee waar die Mangaung-metro-munisipaliteit verskyn het. Die topbestuur van die ANC was aanhoudend in ‘n stryery met ANC-komiteelede betrokke en het veroorsaak dat die komitee nie sy oorsigrol kon uitvoer nie.
Vooruitgang in die metro word gestriem deur interne spanning in die metro se topbestuur. Die metro is aanhoudend sonder water en strate lê vol rommel as gevolg van voortslepende probleme met vullisverwydering.
Gebrek aan politieke wil is die goue draad wat regdeur Vrystaatse munisipaliteite getrek kan word. Die ANC het die Vrystaat in die steek gelaat en munisipaliteite gereduseer tot nie-lopende sake.
Meer as R873 miljoen se toelae van die metro vir stedelike ontwikkeling en openbare vervoernetwerke is nie bestee nie terwyl riool in Bloemfontein se strate vloei.
Die metro bestee enorme bedrae aan konsultante wat insette lewer op ingenieurswese en stadsbeplanning. Die gebruik van konsultante dui op die onbevoegdheid van bestaande personeel wat deur regstellende aksie aangestel is. Inwoners moet dus tweemaal vir hierdie dienste betaal.
Sowat R6 miljard word deur debiteure aan die metro geskuld wat nie geïn word nie. Dit sluit R1.3 miljard in wat die staatsdepartemente aan die metro skuld.
Die posisie waarin die metro homself bevind kan toegeskryf word aan die ruggraatlose bestuur van munisipale rekeninge. Indien die metro daarin slaag om ‘n derde van sy skuld in te vorder, is sy finansiële probleme gou iets van die verlede.
Brandpunte rondom die Bloemwater-dispuut is nie tydens die komiteesitting beantwoord nie. Dié voortslepende dispuut tussen Bloemwater en die metro beïnvloed alle inwoners en dra by tot die geweldige waterkrisis wat die metro beleef.
Ingevolge Artikel 154 van die Grondwet moet nasionale en provinsiale departemente munisipaliteite ondersteun en kapisiteit bou sodat die munisipaliteite kan funksioneer. Die VF Plus eis dat die nasionale tesourie by Mangaung-metro ingryp en die nodige doen in die belang van alle inwoners.
Kontak: 084 206 3375