fbpx
Vryheidsfront Plus

Staat se salarisrekening melk fiskus droog

Die staat se salarisrekening is besig om geld wat die land aan die gang moet hou, met reëlmatige toename te verorber terwyl vakbonde aandring op groter porsies. Tog word die privaatsektor en witmense van die land gereeld die sondebok gemaak vir die land se probleme.

Almal weet dit en die regering erken dit en maak beloftes om op te tree. Tog gebeur net mooi niks. Die regering se salarisrekening maak tans 34% van die nasionale begroting uit. Dit beteken dat R340 uit elke R1 000 wat die regering bestee, aan salarisse gaan.

Salarisse het in die tydperk van 2006/07 tot 2018/19 meer as verdriedubbel van R154 miljard tot R518 miljard. Staatsamptenare wat meer as R1 miljoen per jaar verdien, het gedurende dieselfde tydperk van 9 600 tot 29 000 toegeneem.

Tog word die privaatsektor gereeld uitgekryt as die grootste sondebok vir die ANC se mislukkings.  Die privaatsektor is die grootste werkskepper in Suid-Afrika, ten spyte van reusagtige struikelblokke wat grootliks deur die staat geskep word.

Die gemiddelde salaris in die privaatsektor is R273 000 per jaar.  Die gemiddelde salaris in die staatsdiens is R393 000 per jaar.

Die privaatsektor dra daadwerklik by tot werkskepping en die uitbou en bevordering van die land se ekonomie.  Die staat nie.  Dit is dalk tyd dat die staat begin kyk na die privaatsektor as dit kom by bestuur en personeelaangeleenthede en sy huis in orde kry.

Pogings van die departement van openbare diens en administrasie om bedrog en korrupsie in die staatsdiens te bekamp deur amptenare te verbied om sake met enige staatsinstelling te bedryf, word verwelkom, alhoewel dit eintlik 'n gegewe moet wees.

Vordering met die kantoor van standaarde en nakoming in die openbare sektor word ook verwelkom, maar dit spreek vanself dat 'n mens van die staat sou verwag om werk te lewer wat aan die voorgeskrewe reëls en standaarde voldoen.

Nog ‘n groot probleem is ‘n totale gebrek aan verantwoording. Die rede hiervoor kan in politieke-kaderaanstellings gesoek word.

Die staatskas is leeg.  Daar is nie meer reserwes nie en die land kan nie op dié wyse voortgaan nie. Reëls en regulasies moet toegepas word. Wette is nie blote riglyne nie.

Kontaknommer: 072 997 8315

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.