fbpx
Vryheidsfront Plus

Na langer as ‘n jaar gaan MRK se haatspraak-ondersoek teen pres. Jacob Zuma tog voort

Eers nadat die VF Plus die MRK verlede week ingevolg die Paia-wet versoek het om inligting te verskaf oor waarom geen vordering gemaak word met ondersoeke teen pres. Jacob Zuma nie, het die MRK skielik laat weet die ondersoek oor ‘n klag van haatspraak gaan wel voort – meer as vyftien maande nadat die VF Plus ‘n klag ingedien het.

Uit ‘n brief wat van die MRK (Menseregtekomitee) ontvang is, blyk dit dat die VF Plus die tweede klaer in die haatspraak-ondersoek is wat voortspruit uit die president se uitlating in Januarie verlede jaar oor Jan van Riebeeck.

Hy het onder meer gesê die land se probleme het begin met die aankoms van Jan van Riebeeck en dat talle stryde, oorloë, sterftes, die gryp van grond en die ontneming van inheemse mense se politieke en ekonomiese mag, daarop gevolg het.

In die brief wat die VF Plus verlede Vrydag aan die MRK geskryf het, is gevra waarom die kommissie oënskynlik onwillig is om pres. Zuma te ondersoek aangesien geen van verskeie klagtes teen die president in die laaste twee jaar afgehandel is nie, en dit nie eens bekend was of enige klag wel ondersoek is nie.

Die VF Plus het ingevolge die Wet tot die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) inligting van die MRK aangevra wat lig sal werp op die klagtes en ondersoeke teen die president. Dit was nadat die MRK nie eens meer wou antwoord op die VF Plus se navrae oor die ondersoek nie.

Adv. Alberts sê benewens die antwoorde wat die MRK ingevolge die Paia-wet aan die VF Plus moet gee, sal hy ook wil verneem waarom die MRK toegelaat het dat die president ‘n duidelike sperdatum van 8 Mei verlede jaar verontagsaam het sonder dat die MRK teen hom opgetree het.

Nadat die VF Plus se klag in Januarie verlede jaar ingedien is, het die MRK aanvanklik aangedui dat dit ondersoek word en dat die president teen 8 Mei op die bewerings moes antwoord. Daarna het niks gebeur nie en die VF Plus se navrae is nie beantwoord nie.

Uit die MRK se skrywe van hierdie week blyk dit dat die president eers enkele weke gelede gereageer het deur ‘verdere besonderhede’ oor die klag teen hom te versoek. Die eerste klaer moet teen eerskomende Vrydag (29 April) daarop antwoord.

Adv. Alberts sê hy is bly dat die ondersoek eindelik tog voortgaan, maar die aangeleentheid laat rooi ligte van agterdog brand oor die MRK se bereidwilligheid om kragdadig en spoedeisend teen die president op te tree terwyl daar baie bewyse is dat dit wel in ander gevalle gedoen word.

“Die Openbare Beskermer (OB) het gewys hoe ‘n Artikel 9-instelling ingevolge die Grondwet behoort op te tree ter beskerming van die inwoners van Suid-Afrika en die Grondwethof het hierdie rol bekragtig in sy onlangse Nkandla-uitspraak.

“Dit sal die MRK loën om hierdie voorbeeld te volg as hy nie geloofwaardigheid en die respek van die mense van Suid-Afrika wil verloor nie.

“Indien die eerste klaer in die ondersoek teen die president nie teen Vrydag reageer nie, sal die VF Plus vorentoe beweeg as eerste klaer en al die bewyse verskaf waarop die presidensie moet antwoord,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.