fbpx
Vryheidsfront Plus

Na herhaalde waarskuwings van die VF Plus gryp regering eindelik in by Noordwes-gesondheidsdienste

Byna ‘n jaar nadat die VF Plus die eerste keer ‘n dringende beroep op die regering gedoen het om in te gryp in die haglike gesondheidsdiens van Noordwes, is dié provinsie se departement van gesondheid onder administrasie van die nasionale regering geplaas.

Die minister van kommunikasie, me. Nomvula Mokonyane, het dié aankondiging vandag by die parlement gedoen.

Dit volg knap na die onlangse klopjag op die kantoor van premier Supra Muhamopelo te midde van bewerings van korrupsie met betrekking tot ‘n kontrak ter waarde van sowat R200 miljoen vir mobiele kliniek-eenhede wat Mediosa Health, ‘n maatskappy met beweerde Gupta-bande, van die provinsie se gesondheidsdepartement gekry het.

Die VF Plus het reeds in Mei verlede jaar die probleme in die provinsie se gesondheidsdienste puntsgewys behandel wat ‘n skokkende prentjie van totale verval op elke gebied geskep het.

Dié situasie was toé reeds so benard dat dienste feitlik tot ‘n stilstand gekom het wat ‘n lewensbedreigende risiko vir alle siek mense in Noordwes ingehou het.

Vroeër vandeesmaand het die VF Plus opnuut gewaarsku dat die situasie rampspoedige gevolge gaan hê indien daar nie onmiddellik ingegryp word nie. Dit was toe die staking van personeel by die Nehawu-mediese depot daartoe gelei het dat geen medisyne by verskeie klinieke en hospitale in Noordwes gelewer kon word nie.

Die regering het nou eindelik opgetree, al is dit ‘n jaar te laat. By die VF Plus bestaan geen twyfel nie dat hierdie situasie vir baie siek pasiënte met chroniese behoeftes wel noodlottig was nie.

Dit is tans duidelik dat die totale Noordwes-provinsie se toestand kritiek is, en die regering sal sonder versuim moet ingryp om verdere tragedies te vermy,

Wat hier gebeur is nie net ‘n klad op die naam van die provinsie nie, maar dien as bewys dat die ANC-regering totaal onbevoeg is om te regeer en toelaat dat ‘n provinsie feitlik in duie stort voordat noodplanne ter elfder ure beraam word.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.