Die VF Plus is verheug oor vandag se Grondwethof-uitspraak ten gunste van die Transnet-pensioenarisse aangesien die aangeleentheid vir die sowat 40 000 verarmde pensioentrekkers, wat groot lyding deurgaan, ‘n geloofsaak geword het.
Die VF Plus wil in besonder dankie sê vir die goeie werk wat die onafhanklike regspan in die saak gedoen het wat ‘n deurslaggewende rol in vandag se positiewe uitslag gespeel het.
Ek het sowat drie weke gelede met die minister van finansies, mnr. Pravin Gordhan, oor die saak gepraat en hom gewys op die effek wat dit op Transnet en die staat kan hê indien die Grondwethof teen Transnet sou beslis, soos nou gebeur het.
Op die minister se versoek het ek ‘n skrywe aan hom gestuur waarin die hele aangeleentheid volledig uiteen gesit is. Hy het dit ontvang en het toe reeds begin om die kwessie te ondersoek.
Die VF Plus sal nou met meer gesag die gesprek met min. Gordhan opvolg sodat hy so gou doenlik met die regspan in gesprek kan tree om hopelik 'n spoedige en billike skikking te beding vir onmiddellike verligting vir die pensioenarisse.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216