fbpx
Vryheidsfront Plus

Munisipaliteite se enorme waterskuld bedreig watersekerheid in Vrystaat

Die enorme skuld van R10 miljard wat vyf Vrystaatse munisipaliteite skuld aan die Vaalsentraal-waterverskaffer, bedreig watersekerheid in die Vrystaat.

Vaalsentraal het tydens ʼn portefeuljekomiteevergadering van die Vrystaatse wetgewer se komitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), aangedui dat die groeiende skuld van sukkelende munisipaliteite sal veroorsaak dat hy oor die kort termyn ernstige kontantvloeiprobleme sal ervaar.

Die enorme skuld volg ná die samesmelting van Bloemwater en Sedibeng-water in 2022, hoofsaaklik weens die feit dat Sedibeng insolvent was.

Die Matjhabeng-munisipaliteit skuld die waterraad tans R6,9 miljard. Met die samesmelting in 2022 was dit R4,8 miljard. Binne twee jaar het die munisipaliteit se skuld met R2,1 miljard toegeneem.

Die Kopanong-munisipaliteit se finansiële krisis dra by tot R768 miljoen se skuld aan die waterraad en inwoners se watervoorsiening word reeds tot 30% beperk.

Die Mangaung-metro, Nala- en Mantsopa-munisipaliteite skuld die waterraad onderskeidelik R921 miljoen, R404 miljoen en R3,7 miljoen.

Waterverskaffing aan hierdie munisipaliteite sal toenemend ernstige uitdagings ervaar.

Die VF Plus het van meet af aan gewaarsku dat die samesmelting nie die waterrade se skuldprobleem gaan oplos nie.

Hoewel die nuwe minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, in Augustus met belanghebbendes vergader het, is dit duidelik dat daar geen werkbare plan is om die krisis op te los nie.

Die realiteit is dat die staat aanhou om homself geld te skuld.

ʼn Drastiese ingryping is nodig om veral Matjhabeng, Nala en Kopanong se agterstallige skuld aan te spreek aangesien die munisipaliteite se wanbetaling waterverskaffing aan ander munisipaliteite sal bedreig.

Die VF Plus sal in vrae aan die minister aandring dat sy aandui wat haar plan is om te verseker dat water beskikbaarheid in hierdie munisipaliteite volhoubaar is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.