Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Msukaligwa se onvermoë om rondloperdiere effektief te beheer simptomaties van swak munisipale bestuur

Vir inwoners van die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit (Ermelo, Breyten, Chrissiesmeer, Sheepmoor, Davel) is die gevaar van rondloperbeeste op paaie en skade aan privaat tuine, ‘n direkte gevolg van dié munisipaliteit se onvermoë om sy verordeninge streng toe te pas, insluitend boetes vir eienaars wat diere onwettig laat rondloop of nie brandmerk nie.

Die VF Plus het op 14 September 2022 en 24 Mei 2025 die munisipale bestuur gewaarsku oor die gevare van vee op paaie, skade aan eiendom en die moontlike verspreiding van siektes soos bek-en-klouseer.

Sedertdien is herhaalde skriftelike vrae oor ’n munisipale skut en versoeke vir regulasies heeltemal geïgnoreer.

Die feit dat die kwessie nie op 29 Julie 2025 tydens die algemene raadsvergadering bespreek is nie, is ’n oortreding van klousule 37.1 van die munisipaliteit se staande reëls. Hierdie klousule vereis dat sodanige skrywes skriftelik beantwoord moet word.

Die situasie het intussen versleg.

Op 6 Augustus 2025 het ’n voertuig teen ’n trop beeste gebots wat ernstige skade veroorsaak het. Hierdie voorval kon voorkom gewees indien die munisipaliteit op die party se vroeë waarskuwings gereageer het.

Munisipaliteite in Suid-Afrika is verantwoordelik vir die bestuur van rondloperdiere in openbare ruimtes en op paaie. Hierdie verantwoordelikheid word uiteengesit in nasionale wette soos die Munisipale Stelselswet (Wet 32 van 2000), sowel as in plaaslike verordeninge.

Die VF Plus het ‘n dringende skrywe gerig aan Mpumalanga se departement van landbou, landelike ontwikkeling, grond en omgewingsake asook die kantoor van die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) om betrokke te raak weens die munisipale bestuur se onwilligheid om op te tree.

Die VF Plus eis nou antwoorde op die volgende:
• Waarom die party se vorige briewe en versoeke onbeantwoord bly, ondanks die reëls
• Of daar ’n funksionele skut bestaan. Indien nie, wat is die plan om een te vestig
• ’n Afskrif van die toepaslike verordeninge
• Wie aanspreeklik gehou gaan word vir die skade wat tot dusver veroorsaak is
• Dat ’n openbare kennisgewing in plaaslike koerante en op die munisipaliteit se sosiale media platforms gepubliseer word om die publiek te waarsku oor die gevare van rondloper diere, die gevolge daarvan, en wat die wet daaroor sê.

Inwoners het die reg om te weet wat aangaan en wat gedoen of nie gedoen word nie om hul veiligheid te verseker en eiendom te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.