Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus in JB Marks dien mosie in vir oplossingsgedrewe dienleweringsmodel

Die VF Plus in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp) het vandag ‘n mosie by die speaker van die munisipale raad, me. Moithoesi Dassie, ingedien om dienslewering in die munisipaliteit te herstruktureer en te versterk.

Die mosie maak onder meer voorsiening vir die instelling van ‘n raadsgeleide areakomitee vir die Ventersdorp-distrik. Dit sal groter inspraak in dienslewering vir plaaslike inwoners van die gebied verseker. Dit sluit kwessies in soos die prioritisering van begrotingstoekennings en fisieke hulpbronne, asook toegewyde munisipale personeel en ‘n burgemeesterskomiteelid vir die dorp.

Sedert die ANC-geleide samesmelting van Potchefstroom en Ventersdorp in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit in 2016, het dienslewering in beide dorpe drasties agteruitgegaan. Dit is onder meer te wyte aan die lomp en onpraktiese personeel-en diensstrukture wat sedertdien ingestel is.

Dienslewering in die gebied is gereeld ontwrig met munisipale personeel en toerusting wat sporadies tussen die twee dorpe ontplooi word. Benewens die negatiewe impak wat hierdie praktyk onder munisipale personeel meegebring het, is inwoners van beide dorpe gereeld toegang tot basiese dienste ontneem.

Dit is noodsaaklik dat bestendige dienslewering met vaste diensstrukture regoor die JB Marks-munisipale gebied herstel word.

Die inwerkingstelling van hierdie mosie met gepaardgaande bywette om die nuwe strukture te formaliseer, sal ‘n groot bydrae lewer om professionele dienslewering tot voordeel van alle inwoners in JB Marks te herstel.

Dit sal ook groter deursigtigheid en behoorlike oorsig oor die munisipale administrasie in die hand werk.

Hierdie diensmodel, geskoei op die VF Plus-beginsel van die afwenteling van magte na gemeenskappe, kan ook as voorbeeld dien vir ander munisipaliteite soos Matlosana wat soortgelyke verval beleef weens die instelling van lomp, onpraktiese en onwerkbare diensstrukture.

Die VF Plus sal aanhou stry vir die herstel van professionele munisipale dienste in die JB Marks plaaslike munisipaliteit.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.