Die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit (Ermelo, Breyten, Chrissiesmeer, Lothair, Davel) kan sy Eskom-skuldprobleme oplos deur nie-betalers vas te vat.
Dié groot verlies aan inkomste vir kragverbruik dui daarop dat die ANC nie werklik die toestand van die munisipaliteit se infrastruktuur asook dienslewering wil verbeter nie.
Die verlies kan direk aan die wanbetaling van huishoudings toegeskryf word en die munisipaliteit se traagheid om uitstaande rekeninge te verhaal.
Die munisipaliteit het sedert Julie 2022 tot einde Maart 2023 krag ter waarde van R147 454 039 van Eskom aangekoop, maar slegs R56 802 002 daarop is ingevorder.
Dit is ʼn verskil van R90 652 036. Altesame 61% van die elektrisiteit wat verbruik is, is nie betaal nie. Dié bedrag is bykans 25% teenoor die vorige boekjaar.
Krag- en kabeldiefstal dra aansienlik by tot die nie-betaling van kragverbruik, soos bevestig deur die speaker, me. Ntombifuthi Xaba.
Ook hier is geen erns om op te tree nie en belangrike dienste ly daaronder.
Die verbetering van sekerheidsmaatreëls, die implementering van toesigstelsels en samewerking met wetstoepassingsagentskappe kan dit grootliks voorkom.
Die VF Plus het reeds herhaaldelik aksieplanne voorgestel om hierdie probleme aan te spreek sonder enige optrede. Geskrewe vrae in dié verband bly ook onbeantwoord.
Boonop is die tekorte die hoofrede agter tariefverhogings.
Dit is onredelik van die munisipaliteit om van die handjievol betalende inwoners te verwag om dié tekorte aan te vul met tariefverhogings, veral omdat basiese dienste nie gelewer word nie.
Met die verwagte styging in kragkoste gaan die verlies net groter raak.
Die VF Plus gaan weer aksieplan met voorstelle aan die munisipale bestuur voorlê en gaan daarop aandring dat dit uitgevoer word.
Indien die belange van betalers en nie-betalers nie gebalanseer word nie, sal Msukaligwa net verder agteruitgaan.
Navrae: 082 801 4114 / 066 376 3329